Waar is die koorde op die mondfluitjies??


Eerste, gaan na tabs.co.za, kies 'n liedjie, kyk dan hieronder op die diagram en kies jou mondfluitjies. Onthou, die rooi pyltjies is vir BLAAS en die blou pyltjies is vir SUIG. As die liedjie nie op tabs.co.za is nie, werk die sleutel uit deur op 'n paar mondfluitjies te blaas totdat jy met die wysie kan saamspeel, dit is dan jou sleutel, kies dan net jou mondfluitjies hieronder en volg hierdie basiese koord handleiding:
F# C# G# D# A# F C G D A E B 
as die liedjie in C is kies dan net die ander koorde langsaan die C bv. FCG
en vir A = DAE vir F = A#FC ens. Geniet!!







Staan soos 'n aap, dink soos 'n aap, speel soos 'n aap.


Deur jou postuur, terwyl jy mondfluitjie speel, te evalueer kan jy die noue gestremde klank verhoed waarmee meeste beginners sukkel. Het jy al getoets watter klank jy voortbring? Staan voor 'n spieel en evalueer jou postuur, of maak 'n video opname terwyl jy een van jou liedjies speel ek kyk dan daarna. Luister na die klank wat jy voortbring en vergelyk met jou postuur, jou kop, jou skouers, jou bors, heupe, kniee arms, ens. Vra jouself;

1. Is die lugkanale deur my keel en longe oop
2. Is my kop regop en gebalanseerd op my skouers
3. Is my bolyf ontspanne, skouers nie opgetrek of styf nie
4. Kan my longe en diafragma vrylik beweeg
5. Staan los, wieg bietjie saam met die musiek, nie stokstyf, penregop soos 'n paal nie.
6. Lyftaal is 'n groot deel van die musiek maar moet nie jou spel belemmer nie.
7. Met behoorlike belyning klink jy nie net beter nie maar lyk jy ook professioneel.

Kyk bietjie na hierdie illustrasie, kyk na professionele spelers se postuur en leer van die beste. Dis beter om vroegtydig jou postuur te verander as om later daarmee te sukkel.

Hulpmiddels

Harping Midi is 'n fantastiese gratis hulpmiddel om jou te help mondfluitjie speel - jy kan van Blêrkas se liedjies daarop speel, verander net die sleutel en speel saam, party liedjies het verwerking nodig - jy kan dit doen met Anvil Studio. Ander hulpmiddels is Midi-trainer en HarmoTab, gaan probeer gerus, dis gratis. (Laat ons ook asseblief weet as jy in enige opsig met tabs kan uithelp) Indien jy belang stel in die koord mondfluitjie of koorde vir die kitaar is Riffstation seker een van die beste sagteware op die mark. Met HarpNinja kan jy presies sien watter note jy speel, uitsktekend vir note 'buig'.

Daar is 'n groot aanvraag vir mondfluitjie ''tabs'' veral vir Afrikaanse volks en boeremusiek liedjies. Daar is baie min Afrikaanse bladmusiek beskikbaar in vergelyking met volksliedjies van ander lande. Daar is musiek boekke ja, maar vir iemand wat net wil leer mondfluitjie speel kan dit uitloop op 'n duur storie, dit wil sê as hy musiek kan lees. En wat van die res van ons wat nie musiek kan lees nie?

Die ander probleem is dit; . . . daar is twaalf sleutels, so dit beteken dat jy het twaalf diatoniese mondfluitjies nodig om saam te speel (behalwe as jy die note kan buig) en om al die liedjies te verwerk in een sleutel kos heelwat kennis van musiek, baie tyd en geduld. Daar is ook baie verskillende ''tunings'', Paddy Richter, Solo, Country, Spiral, ens. en baie soorte mondfluitjies, diatoniese 'blues', chromaties, tremelo, oktaaf, ens., ens., daar moet dan tabs vir elke soort geskryf word, want die blaas en suig note is nie op dieselfde plekke nie. 

Hier het ons tuisgemaakte mondfluitjie tabs en op Youtube lesse gelaai spesefiek vir die kromatiese en 10 gaaitjie diatoniese blues mondfluitjies in die C sleutel, omdat dit goedkoop en maklik verkrygbaar is. Meeste van die beginner 'Tutor' boeke is ook geskryf vir die sleutel van C.

As gevolg van die beperkte uitleg van die note op die diatoniese blues ingestelde mondfluitjies, sal nie al die TABS presies volgens die oorspronklike wysies verwerk kan word nie. Maar dis ten minste 'n begin punt om jou te help mondfluitjie speel.

Kry daai liedjie in jou kop!!

Om die mondfluitjie te leer speel is een ding . . . en vir beginners nogal 'n moeilike ding . . . maar om die liedjie noot vir noot in jou kop te kry, is iets wat selfs die beste spelers moeilik vind. Hoe kry jy dit vinnig in jou kop sodat jy dit op die mondfluitjie kan speel?

Hier is 'n paar wenke wat jy kan toepas voordat jy die liedjie op die mondfluitjie probeer:


1. In watter sleutel is dit . . . . as die sleutel halfpad deur die liedjie verander beteken dit dat jy twee of drie mondfluitjies byderhand moet hê.

2. Wat is die melodie, word dit 'n paar keer deur die lied herhaal? Jy kan gewoonlik die liedjie opbreek in korter gedeeltes om dit vinniger baas te raak. Kan jy dit van begin tot einde fluit of sing, noot vir noot, voordat jy dit op die mondfluitjie probeer? 

3. Hoe werk die ritme? Ritme gaan ook help met al die rus periodes tussen die note, die spasies tussen die note wat jy nie moet speel nie. Kan jy die ritme patroon uitwerk en met jou voet saam tik? Is dit vinnig . . . stadig . . . ? Watter tiepe energie straal uit die liedjie?

4. Kan jy die koorde en die patroon van die koorde uitwerk? Die diatoniese 10 gaatjie "blues" mondfluitjie is baie beperk en om so nou en dan 'n paar koorde te speel sal help om die ontbrekende note in te vul. RIFFSTATION kan jou hiermee help.

5. Wat is die harmonie wat die melodie vergesel . . . as daar een is of nie? Jy kan dit uitwerk deur die koorde te ontleed, gebruik die struktuur van die koord en speel die tweede of derde note in die koorde en maak 'n wysie op wat saam met die melodie inpas. As daar 'n tweede instrument of sanger op die liedjie is, kan jy gewoonlik vinnig die harmonie uitwerk. Dis goed om die melodie en die harmonie te kan speel, veral as jy saam met 'n orkes speel wat reeds 'n hoofsanger of 'n instrument het wat leiding neem en die melodie speel, jy wil nie kompeteer nie.

6. Wat is die gemoedstemming van die liedjie, is dit vrolik, aggressief of hartseer? Waar is die emosionele gedeeltes of oomblike waar jy trillende bewerige note of buig note kan toepas? Luister na die volume van die note, daar is heelwat verskil in die volume van die note wanneer emosie betrokke is. Probeer ook die lengte van die note presies na te maak.

Elke liedjie moet so, of op 'n soortgelyke manier ontleed word om dit ten volle te kan benut, veral as jy nie musiek notasie kan lees nie. As jy beoog om die mondfluitjie ernstig op te neem dan moet jy ook ernstig wees om die liedjies wat jy speel goed te kan analiseer om dit in jou kop te kry sodat jy op jou spel kan konsentreer.





Hoe verwyder mens die sanger se stem van 'n lied?

Laai Audacity af op jou rekenaar, dis heeltemal gratis, verniet, pasella:


http://www.audacityteam.org/download/windows/

Laai hierdie Plugins af:
https://www.fosshub.com/Audacity.html/LADSPA_plugins-win-0.4.15.exe

Laai hierdie Stem Isolasie plugin af:
https://drive.google.com/file/d/0BwTzm8I6uDOpcVV5OXQteWRsYjQ/view?usp=sharing

Plaas (drop & drag) alle plugins in Audacity se ‘Plugins folder’

Wanneer jy net die sanger of die leidende instrument wil verwyder kan jy die ‘vocal remover’ of die ‘vocal isolator’ plugin gebruik. 

Probeer ook hierdie manier:
https://www.youtube.com/watch?v=-4IbGgqTCFw

As jy die sanger of die leidende instrument wil behou of beklemtoon gebruik jy die stem isolasie (vocal isolator) plugin. Natuurlik, dit werk nie met alle liedjies nie, en definitief nie met ‘mono tracks’ nie, maar baie goed met stereo tracks van CD’s af. Jy sal moet rondstel met die skuif knoppies op elke lied om die beste resultaat te kry. Of:
https://www.youtube.com/watch?v=s2StlHv-D8E


Daar is ook ander minder suksesvolle maniere wat op Youtube verduidelik word.

Hoekom sukkel ek dan so om saam met liedjies te speel??

Liedjies word geskryf en gespeel in verskillende sleutels. Daar is 12 sleutels in die moderne westerse musiek skaal. As jy byvoorbeeld met 'n C mondfluitjie speel, gaan jy sukkel as die liedjie in enige van die ander sleutels is. Daarom sien jy die tassie met 12 mondfluitjies in verskillende sleutels wat die professionele spelers altyd saamdra op vertonings. 

Natuurlik kan jy die 10 gaatjie diatoniese blues mondfluitjie op verskillende posisies speel of party note buig sodat jy in 'n ander sleutel kan speel, maar dis baie beperk en baie moeilik vir beginners. As jy met diatoniese en veral die tremolo mondfluitjies speel, is dit raadsaam om al die sleutels aan te skaf, dan kan jy met die regte mondfluitjie, op die beste posisie, saam met enige stuk musiek speel. 

Dit is ook noodsaaklik dat jy ook jou liedjie goed ken . . . . hulle kondig nie vooraf in watter sleutel die lied gespeel gaan word en ook nie as dit halfpad deur die lied van sleutel verander nie. Daarom is dit so moeilik om saam met liedjies oor die radio of internet te speel as jy nie reeds die liedjie goed ken nie. 

Baie van die ou langspeel plate wat verwerk is na CD kan ook effens uit ''tune'' wees as gevolg van die platespeler se spoed variasies. Maar dit kan reggestel word met klank sagteware soos Audacity of Riffstation. Jy kan ook hiermee die sleutel van die lied verander na die sleutel van jou mondfluitjie, sonder om die tempo te verander, maar dis nie altyd 'n goeie ding nie want partykeer is die skaal so ver uit mekaar, dat die klank vermink word, dis of te hoog of te laag en klink vreeslik.

Die van ons wat gelukkig is om 'n kromatiese mondfluitjie te besit, die een met die skuifknoppie, vind dit heelwat makliker om met liedjies saam te speel, maar dan moet jy jou mondfluitjie en die liedjie goed ken veral as dit in 'n sleutel is waar jy die skuifknoppie gereeld moet gebruik.

Wanneer jy op jou eie speel, sonder om saam met musiek te speel, kan jy enige liedjie op jou mondfluitjie speel in die sleutel van die fluit. Dis nie so moeilik as wat dit klink nie, begin met die maklike liedjies wat jy reeds goed ken, noot vir noot, en vorder dan na die moeiliker liedjies. Mondfluitjie TABS.

Wat dit ook so moeilik maak om saam met party liedjies te speel is die feit dat daat so baie verskillende tiepe mondfluitjies en ''tunings'' is. As jy nie seker is watter tiepe mondfluitjie jy het nie, gaan identifiseer joune HIER.

Tyd vir 'n MIDI-mondfluitjie?

In 'n onlangse bespreking op "Harp Repair" op Facebook was die vraag gevra of daar iemand was wat suksesvol partjies bestel het van mondfluitjie fabrieke. Met die meestal negatiewe kommentare wat daar gemaak was, staan daar 'n klompie feite bo al die gebakel uit:

1. Soos 'n kitaar moet mondfluitjies gereeld ingestel word en rietjies vervang word, veral as jy gereeld daarmee speel.
2. Die proses is ingewikkeld en duur en is bo meeste spelers se vuurmaak-plek.
3. Nie al die vervaardigers is behulpsaam met parte, of herstel gereedskap vir die mondfluitjies nie, so asof hulle liewer 'n nuwe mondfluitjie sal verkoop as partjies.
4. Party mondfluitjies is so gemaak dat jy dit nie kan herstel of instel sonder baie moeite nie.
5. Party van die duur mondfluitjies met vlekvrye staal rietjies, is amper onmoontlik om in te stel sonder dat dit daarna blikkerig klink.
6. Die wag tydperk vir parte kan tot op 12 weke lank neem . . . as jy hulle geduurig aanjaag.
7. As gevolg van die pryse wat die hoogte ingeskied het en die probleme met partjies het van die spelers teruggeslaan na die goedkoper modelle, een speler speel nou selfs met 'n speelgoed mondfluitjie op die verhoog.
8. Meeste van die mondfluitjies en parte word net in China gemaak, selfs Amerika het nie meer 'n mondfluitjie fabriek nie.
9. Alhoewel partjies van verskillende modelle op mekaar pas, is daar nog steeds ingewikkelde werk betrokke.

Dis sommer 'n hele komp probleme vir so 'n klein instrumentjie. Kan dit wees dat daar 'n moontlike gaping in die mark oopgegaan het vir 'n nuwe vervaardiger van mondfluitjies, miskien selfs in Suid Afrika, veral as die volgende in ag geneem word; die goeie wisselkoers vir vervaardiging, die infrastruktuur vir rou materiaal wat reeds goed gevestig en die geweldige kennis van riet instrumente soos konsertinas wat baie van ons musikante besit. 'n Of wat van 'n midi-mondfluitjie, daar het reeds 'n midi-konsertina onlangs sy verskyning gemaak . . . met so 'n elektroniese mondfluitjie kan al bogenoemde probleme heeltemal uitgeskakel word.

JONGSTE NUUS:

https://www.facebook.com/Bekfluit/videos/1191595930947446/