Japie Goosen

Die mondfluitjie in Suid Afrika is 'n ongewaardeerde, verwaarloosde musiek instrument. Selfs gesoute en hoogs bekroonde musikante beskou dit nog steeds met minagting ten spyte van die feit dat die res van die wêreld dit al dekades gelede erkenning gegee. Dit het bydrae gelewer dat die Suid-Afrikaanse publiek onkundig geraak het en dit meestal as 'n kind se speelding beskou. Dit is vreeslik jammer dat ons so baie min spelers van gehalte het wat die lyding kan neem om hierdie sienswyse die nekslag toe te dien. As Suid Afrikaners net weer kan sien wat gedoen kan word met hierdie ernstige instrument.


Die mondfluitjie is 'n kompleks, ekspressiewe instrument, in staat om enige musiek genres te hanteer. Vir meeste is dit slegs 'n verwoording van die plesier en genot wat musiek aan hulle verskaf. Vir diegene soos Vincent van Rooyen, Larry Adler, Franz Schmel, Brendan Power en baie ander wat reeds virtuositeit bereik het, besef die ongelooflike potensiaal wat hierdie instrument kan vermag. Al hiedie meesters spandeer baie tyd en aandag om ander te help mondfluitjie speel, meeste van die tyd sonder enige vergoedding. 


Mondfluitjie in RSA is darm nog nie dood nie, die blues manne kook, maar die res van die genres smeul maar nog net. Hierdie blad is gestig om daardie smeulende pit weer aan die brand te blaas. In die twee en 'n halwe jaar vandat bekfluit.info gestig is het ons gegroei van 'n handjie vol besoekkers tot gemiddeld 2500 per week. Dit is bewys dat mondfluitjie 'n vastrapplek gekry het in RSA, en ek hoop ter harte dat dit van krag tot krag sal gaan, veral wat Volks-, Boere- en Afrikaanse musiek betref.

Alhoewel hierdie blad gemik is vir absolute beginners gaan ons stadig meer en meer TABS laai vir die kromatiese mondfluitjies. Tegnologie is ongelukkig so dat as jy nie volhou met al die opgraderings nie, jy vinnig agter gelaat word. Om mondfluitjie TABS te maak sonder om musiek te kan lees is vir my vreeslik moeilik, maar hopelik sal ek die nuwe sagteware binnekort baasraak, dan behoort dinge vinniger te vorder. Bladmusiek vir boeremusiek is ongelukkig so skaars soos hoendertande, daardie TABS sal ek nog met gehoor doen.

Ek het mondfluitjie bietjie laat in my lewe ernstig begin speel, so op 43 jarige ouderdom. Ek het gelukkig die voorreg gehad om Vincent van Rooyen verskeie kere te ontmoet en alhoewel oom Vinnie nie meer met ons is nie, is sy nalatenskap nog steeds 'n groot dryfkrag en aansporing vir my. Die bietjie tyd wat ek met hom spandeer het, het sy aansteeklike liefde vir die mondfluitjie my aangetas. Ek besef ek sal nooit so goed soos hy kan speel nie, maar kan darm probeer om daardie liefde vir die instrumentjie oor te dra aan ander. 

Nog 'n persoon wat my entosiasme kan aanwakker is oom Aad Daane met sy geweldige groot kennis van mondfluitjies, geskiedenis en dies meer. Hy word nog steeds beskou as een van die wêreld se beste bas en koord mondfluitjie spelers. As jy in die Wes Kaap woon sal jy baie baat vind om vir hom te gaan kuier daar in Gordons Baai, en hy sal dit ook baie waardeer. Terloops, hy gee ook mondfluitjie lesse.

Die mondfluitjie was maar net 'n mondfluitjie vir my, het gedink almal was dieselfde en het nie geweet daar is so baie verskillende 'tunings' nie . . . was eintlik bietjie bang vir die ding . . . totdat ek die kromatiese mondfluitjie ontdek het. Sommer van die begin af het kon ek maklike liedjies daarmee speel. Die blues mondfluitjie weer is baie beperk en deurmekaar, die tremelo het ook nie al die note nie, maar die kromatiese mondfluitjie het al die note van 'n oktaaf en meer. 

Die koord mondfluitjie is ook een van my gunsteling instrumente, dit is 'n ritme instrument en vreeslik maklik om te speel, nes 'n kitaar. Met die intrapslag kan jy saamspeel met omtrent enige musiek.

Hoop julle geniet en vind baat hier op bekfluit.info. Enige terugvoering wat gaan help om die lesse makliker te maak om te volg is baie welkom, so ook bydraes van enige mondfluitjie aard. Hier is ook heelwat skakels na mondfluitjie musiek en videos op hierdie blad.

Met watter tiepe mondfluitjie speel ek?

Identifiseer jou Mondfluitjie
Vir beginners kan die keuse van ‘n mondfluitjie baie verwarrend wees veral as jy kyk na die hoeveelheid verskillende tiepe mondfluitjies wat daar is. Mondfluitjies word in die algemeen geklasifiseer in drie tiepes; Diatonies, Tremolo en Kromaties, ten spyte van die feit dat daar nog ‘n horde ander tiepes ook is. Hierdie drie is die mees bekendste, word die meeste gespeel en word die meeste verkoop. Behalwe as jy ‘n uitstekende musikant is, sal jou keuse normaalweg op ‘n Diatoniese 10 gaatjie blues mondfluitjie uitloop, vir die eenvoudige feit dat dit die mondfluitjie is vir enige soort styl, insluitend country, blues, rock, gospel, folk en selfs klassieke musiek. Meeste professionele spelers is oorwegend diatoniese spelers.

Met watter tiepe mondfluitjie speel ek? - Sonder om in diep tegniese besonderhede in te gaan, so lyk die drie fluite:
DIATONIES - Standaard 10 Gaatjie diatoniese beskikbaar in 12 sleutels wat toelaat dat jy in ‘n hele 7-noot majoor skaal kan speel in die sleutel van die mondfluitjie. Zak van Niekerk het meestal met hom gespeel. ‘n Lekker bluesy klank.

TREMOLO - Hierdie fluite is diatonies ingestel, twee rye van 8, 10 of 12 pare dubbel gaatjies, elke paar met twee rietjies van dieselfde noot, een bietjie hoër ingestel as die ander, wat ‘n tremolo effek veroorsaak. Dit is ook die naaste klank wat jy aan ‘n konsertiena kan kry. Oom Hannes Buitendag het meestal met hom en die OKTAAF (die twee rietjies is ‘n hele oktaaf van mekaar gestel) fluite gespeel. Baie gewild in die volk musiek wêreld.

KROMATIES - Dis die fluit met die skuifknoppie aan die sy. Met hom kan jy in enige sleutel in enige skaal speel. Vincent van Rooyen het meestal met hom gespeel.

Sit die Bal aan die Rol

Dit het my baie, baie jare, dekades, geneem vandat ek die mondfluitjie vir die eerste keer probeer het, om dit uiteindelik ernstig aan te pak, ten spyte van die feit dat dit een van die dinge was wat ek vreeslik baie graag wou bemeester. Ek het vir myself gesê: môre sal ek begin, en ‘môre’ het verander in ‘volgende week’ en ‘volgende week’ in ‘volgende maand’ en die ‘maand’ in ‘jare’ en die ‘jare’ in ‘dekades’. 

As ek nou terugkyk, met spyt, na al daardie jare wat ek gemors het, dan besef ek die skuld moet by die deur van prokrastinasie gelê word. As ek vir myself ‘n tydsbeperking of sperdatum opgelê het dan was die taak dekades gelede reeds verrig. En was dit nie vir ‘n wekroep in die vorm van ‘n ernstige hartkwaal nie dan sou ek seker nooit wakker geskrik het nie. Prokrastinasie neem die ‘werklikheid’ en verander dit uiteindelik in ‘fantasie’.
Ek weet, sonder twyfel, dat daar baie van julle is wat besig is om in my paadjie te loop. Jy wil so vreeslik graag die baas wees van die mondfluitjie, jy wil speel soos Vincent van Rooyen of Zak van Niekerk, of jy kan reeds goed speel en wil so graag ‘n liedjie opneem, miskien vir die kompetisie, . . . . maar stel die werk en oefening vinnig uit want die taak staan groot, soos ‘n berg, voor jou. 

My eerste stap was makliker as wat ek gedink het, ek het opgehou droom en die fluit in my mond gesteek en begin oefen. Wys vir jouself jy kan ‘n begin maak, en moet nie vir jouself jy kan dit doen nie. Breek die berg op in klein stukkies, trappies wat jy een vir een maklik kan klim. As dit ‘n liedjie is, breek dit op in versies, in klein stukkies en oefen elk todat jy dit baasraak, sit dit dan terug in groter dele en oefen totdat jy die hele lied kan speel. 

As dit ‘n opname is wat jy wil maak, doen dit eers op jou selfoon, maak nie saak hoe sleg dit klink nie, doen dit oor en oor todat jy ‘n redelike opname het. Speel eers stadig, half spoed en gradeer opwaarts totdat jy tevrede is daarmee . . . maak dan ‘n goeie opname op jou rekenaar met Audacity of ander sagteware en pos dit op die internet, mense sal nie weet jy speel mondfluitjie nie tensy jy vir hulle wys jy kan. 

En baie belangrik, stel vir jouself ‘n tydsbeperking vir elke stap, maak dit maklik genoeg sodat jy dit kan bereik. As jy wil klink soos Vincent van Rooyen of Zak van Niekerk, dan moet jy ook dieselfde inspanning insit soos hulle dit gedoen het. Oom Vincent het geoefen soos ‘n masjien, elke lied was oor en oor gespeel todat hy tevrede was. Hy het gesê jy moet ‘n liedjie ten minste 50 keer speel voordat jy dit vir ander speel.

Die grootste pret wat ek ooit uit die mondfluitjie gekry het was wanneer ek ‘n liedjie bemeester het. Daar is geen groter bevrediging as die genot wat jy in jou luisteraars se gesigte sien nie.