Vincent vertel - Argief

'Mondfluitjie' Van Rooyen maak CD

NADAT hy jare gelede 'n reeks bloutjies met platemaatskappye geloop het, het Vincent van Rooyen besluit: nooit weer nie. ''Ek het my laaste plaat in 1975 gemaak,'' vertel dié leier van Suid-Afrika se bekendste mondfluitjie-trio, ''en ek was vasbeslote om myself nie weer vir so iets in te laat nie. 

Maar toe word ek sestig en my ou vriend, Hendrik Swanepoel, kondig aan hy weet nie eintlik wat om vir my te gee nie, maar hy't gedink miskien moet hy my help om 'n CD te maak. Toe dag ek: 'Ag wel, ek kan seker net sowel 'n CD maak voor ek doodgaan'. Ons het Swannie in 'n baie kort tyd opgeneem.'' Nog 'n vriend, Anton Goosen, het die produksie gedoen, en Jannie du Toit se NJS-Musiek het gesorg dat dit op laserskyf verewig word. Vincent sê Swannie is op die populêre mark gerig. ''Ons klank is uniek. Daar is niks soortgelyks in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die individuele liedjies is egter eenvoudig genoeg vir enige mondfluitjie- geesdriftige om saam te speel.'' 

Vincent geniet self ernstige musiek egter meer. En tog het hy niks van die onderwerp geweet tot kort ná sy twintigste verjaardag nie. ''Ek was 'n skrynwerker. Ek was op pad huis toe en ek het sewe sjiellings en ses pennies in my sak gehad. Langs die pad is ek by 'n apteek verby, en in daardie dae het apteke mondfluitjies aangehou. Op die ingewing van die oomblik het ek besluit om een te koop. Toe stap ek huis toe en tuis speel ek vir my ma Drink to me only. Dit het my sewe minute geneem om te leer speel. Of liewer, om 'Drink to me only' te leer speel.'' Vincent het dadelik die potensiaal van sy instrument raakgesien en besluit dis tyd vir formele musieklesse. ''Maar drie onderwysers in 'n ry het gesê: 'Nee man, kry vir jou 'n ordent like instrument, soos 'n klavier'. Toe leer ek maar myself.'' 

Vincent was gou versot op sy mondfluitjie, en kort voor lank het hy elke aand ná werk tot middernag geoefen. Binne drie jaar het hy uitvoerings begin gee, en uiteindelik het hy saam met die Johannesburgse en Kaapstadse simfonie-orkeste opgetree. Negentien jaar gelede het hy 'n mondfluitjie-trio saam met die Hopper-broers begin, en hulle is vandag nog bymekaar. In 1987 is die groep genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig by die wêreld-mondfluitjiewedstryd, waar hulle derde geëindig het. Twee jaar later was hulle tweede. Die volgende wedstryd is oor drie weke. Gaan hulle hierdie keer wen? ''Ag nee, ons het nie geld om te gaan nie. Ons kan nie borgskappe kry nie en die Regering is bankrot,'' sê Vincent. 

Ondanks sy liefde vir sy instrument, en sy onteenseglike sukses, het Vincent se musiek wat gou ook komposisie ingesluit het altyd 'n stokperdjie gebly. Ná verdere studie het hy uiteindelik in die fotografiebedryf geland, maar nadat die maatskappy waarvoor hy gewerk het sowat drie jaar gelede gesluit is, is hy nou ''amptelik 'n werklose armblanke''. Werkloos of te nie, hy werk aan sy volgende laserskyf. ''Dit gaan ernstiger wees, met 'n sterk klassieke inslag.''

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen



Mondfluitjie-koning gaan Bloemfontein betower - Argief



Magdel Fourie

DIE kort, klein gryskop man knyp sy oë toe, klem sy hande om sy goudkleurige mondfluitjie vas en blaas. En eensklaps, soos die mitiese Fluitspeler van Hamelin, vul hy die vertrek met betowerende, sielvolle musieknote.

Vincent van Rooyen, wêreldbekende mondfluitjiespeler, het ’n ongelooflike passie vir wat hy doen. Hy speel dié musiek in vriende se huis in Bloemfontein net twee uur nadat hy bestraling ontvang het vir die gevorderde prostaatkanker waarmee hy tien jaar gelede gediagnoseer is. 

“Ek het sommer verlede week vir die personeel in die hospitaal ’n gratis konsert gehou. Nou behandel hulle my soos ’n ‘VIP’” lag hy. Van Rooyen, nou 74 jaar oud, het homself op 20-jarige ouderdom leer mondfluitjie speel, en staan nou aan die einde van ’n baie suksesvolle loopbaan waarin hy internasionale bekendheid verwerf het. Hy het in 1987 aan die internasionale mondfluitjie-kampioenskap deelgeneem en ’n derde plek behaal. Twee jaar later het hy wéér deelgeneem, en tweede gekom. “Toe ek die eerste keer op die kampioenskappe speel, kon die mense nie glo wat hulle hoor nie. Omdat ek myself leer speel het, het ek my eie styl en eie klanke ontwikkel wat nog nooit voorheen gehoor is nie,” vertel hy.

Nóú reël sy jare lange vriendin, me. Karien Jordaan van Bloemfontein wat hom op die wêreldkampioenskap met klavier begelei het, vir hom ’n welwillendheidskonsert wat op 14 Maart in die Odeion in Bloemfontein gehou word. Verskeie bekende kunstenaars saam met wie hy oor die jare gewerk het, het ingestem om op dié aand op te tree. “Ek kan dit amper nie glo nie, dit is wonderlik. Al is dit my laaste konsert, sál ek ook daardie aand speel,” glimlag hy.

Dié uiters begaafde musikant het al sowat 16 langspeelplate opgeneem, twee CD’s gesny, tydens talle radio- en televisie-uitsendings gespeel en telkemale as solis saam met die Kaapstadse en Johannesburgse simfonie-orkes opgetree, asook sy eie konserte gehou. Hy het ook ’n wêreldbekende mondfluitjie-trio saam met die broers Jonathan en Paul Hopper gevorm. Daarby het Van Rooyen ook sy eie musiek gekomponeer wat van ligte boeremusiek tot klassieke musiek strek. Van Rooyen is in Parow in die Kaap gebore, het lank in Bellville gebly, en bly nou saam met sy vrou, Annie, op Kroonstad.

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen







Leer jou les mannetjie!!!

Die idee dat 'n "gebore genie" slimmer en meer in staat is as die res van ons gewone sterflinge, is onsagwekkend beweer Robert Greene, skrywer van die gewilde The 48 Laws of Power (Penguin, 2000). Die bekoring wat ons in hierdie sogenaamde wondermense sien, sê hy, is "vals. Dit is heeltemal onwaar." Uitsonderlike talent word alleenlik verkry deur harde werk.

Greene het die lewens van uitsonderlike suksesvolle mense bestudeer vir sy boek Mastery (Viking/Penguin, 2012) en tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie so iets soos ''ingebore superieur intelligensie'' is nie. Die wat bo die res in hulle spesifieke veld presteer, die bereiking van wat hy noem 'n "hoë-vlak instinktiewe gevoel vir hul spesialiteit'', het 'n onwrikbare fokus en werksetiket.

Dit is nie 'n kwessie van een of ander talent of intelligensie wat jy het nie, maar wat jy bereik het deur ondervinding en harde werk. ''Ons moet onslae raak van daardie ouderwetse geloof van ingebore talent en intelligensie''.

Die' wat vir Vincent van Rooyen geken het sal weet hoe baie hard hy gewerk het aan sy musiek, gedurig besig om nuwe maniere en moontlike paaie na meesterskap te bereik. Nie vir een oomblik het hy geglo dat hy uiteindelik die meerster van die mondfluitjie was nie. Inteendeel, hy was eerlik met sy tekortkominge, selfs met sy baie jare van ondervinding het hy gedroom dat hy eendag ''baas'' wil wees van die mondfluitjie. Vandag word hy beskou as die beste mondfluitjie speler wat Suid Afrika nog ooit gelewer het en een van die bestes in die mondfluitjie wêreld.

Daar is geen twyfel dat, met harde werk, daar potensiele ''Vincent van Rooyen's'' en ''Zak van Niekerk's'' is, wat hard aan die werk is om die mondfluitjie te bemeester nie. Dit sal wonderlik wees om weer 'n mondfluitjie herlewing te sien in Suid Afrika soos in toeka se dae.

Anton Goosen gesels oor Vincent


Anton Goosen gesels oor Vincent van Rooyen
 



Ek het Vincent van Rooyen ook geken – en baie van hom gehou. Hy was ‘n goeie mens. En ‘n uitstekende uitvoerende kunstenaar. ‘n Meester van sy instrument.

Ek het hom by Hendrik Swanepoel ontmoet. Hendrik het hom “Uncle” genoem en gevoel dat Vincent verdien om ‘n eie eerste CD op die kommersiële mark te hê. Dit was ‘n verjaardaggeskenk vir Vincent. Dus het hy my gevra of ons nie ‘n verjaardagpresent vir Vincent kan maak nie. Vir die groter saak. Vincent het op Gansbaailapa kom inloer sodat ons die produksie kon bespreek. Hy was baie verras dat ek gedog het hy gaan dalk moeilik wees om mee saam te werk. Hy was allesbehalwe moeilik. Professioneel eerder. In elke opsig.

Ek het Downtown Studios vir die produksie bespreek. Destyds het hulle die modernste en beste tegniese opname-fasiliteite gebied. Hy en sy trio (Paul en Jonathan Hopper, was inge-“rehearse”. Totaal voorbereid. Die opname-ingenieur, Darryl Heilbraum, kon nie glo wat hy hoor nie. Net drie mondfluitjies: ‘n chromatiese mondfluitjie wat die tune speel (Vincent) ‘n ritme-mondfluitjie wat akkoorde speel soos op ‘n ghitaar, en die bas-mondfluitjie.

Ek het nie geweet dis moontlik om ‘n CD-album in DRIE dae op te neem en te meng nie, want gewoonlik neem dit tot drie weke en langer. Dit was amazing hoe die trio ingeoefen was. Nie net vir die CD-opname nie, maar as musikante wat jare lank mekaar ken – musikaal ken.

Hendrik het ‘n hele klomp eksemplare van Swanee laat druk in Taiwan en later jare het Vincent ‘n klomp van hulle vir JNS Musiek gegee om te versprei. Vincent se verrassing was nogal groot toe hy ‘n rekening van laasgenoemde kry ipv tantieme. Dit klink raar; veral omdat alle onkostes reeds deur Hendrik betaal was – die bookies ingesluit. (Hoe kan die boekies uit stock wees as die volledige produk verskaf was????)

‘n Jaar gelede het ek en Hugo en Johrne van ddisselblom en Hendrik afgesit Bloemfontein toe om ‘n huldigingskonsert/fondsinsameling vir Vincent te doen. Want hy het kanker gehad. Sy dogter, Vanessa, het ook die aand gesing en sy seun, Vance, doen dikwels klank vir ons in die Kaap.

Vincent het reeds geweet dat hy ‘n afspraak het met die Groot Stilte. Sy vrou is onverwags net voor dit oorlede. Hy het sy mondfluijtie daardie aand puik gespeel. En in die kleedkamer vir my ‘n joint aangebied. Ek kon my oë nie glo nie en net gelag. Maar, dit is glo goed vir kankerpasiënte.

Ons het eenkeer saam op ‘n luukse jag beland in Gordonsbaai. Die gasheer was in ‘n hofgeding en die advokaat teen die gasheer het mondfluitjielesse by Vincent geneem. Dus beland hy ook by die party so by die agterdeur in as groupie van die Vincent van Rooyen-trio wat musiek moes kom maak vir die partytjie op die jag.

Drank en nag bring kennis, het Andre P Brink, geskryf. En dis waar. Want die advokaat is toe ‘n ongure mannetjie. Een wat jou verkeerd opvryf. En na die hoeveelste quip van sy kant af, vra hy nav my reaksie: “What is your problem with me”?

En nou is die 600 woorde amper op en sal julle hier verder moet lees …

Anton Goosen

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen




Hoeveel mondfluitjies het ek nodig?

Nie alle mondfluitjies is dieselfde nie, dit kan jy sommer met die oogopslag sien in die konstruksie van die instrument. As jy graag met alle musiek wil saam speel, dan is dit belangrik om van die begin af te weet wat die verskillende mondfluitjies vir jou kan doen. Hier is 'n illustrasie wat dit verduidelik, gebaseer op die 10 gaatjie fluite. Onthou, alhoewel jy die blues mondfluitjie se note kan buig om die ontbrekende note te kry, kan dit 'n moeilike tegniek wees om te bemeester, veral vir beginners. 

Johan van Zyl


Ten einde te verhoed dat dié ou tradisie (boeremusiek) dalk uitsterf en om belangstelling onder jonger mense daarvoor aan te wakker, is ’n boeremusiekklub in Oktober 2011 in Windhoek gestig. Die president van die klub, die vonk wat gelei het tot die stigting daarvan, Johan van Zyl van Windhoek, is ook ’n kranige multi-musiek-instrument speler, ’n gesoute musikant, 'n dryfkrag en stutpilaar agter die herlewing van boeremusiek in Namibie.  Nog ’n merkwaardige prestasie is die feit dat Johan deur die adjunk­minister tot lid van die NACN van Namibië benoem is. Mnr. Pohamba Shifeta, Adjunkminister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, het die benoeming by navraag bevestig.  "Dit is vir my en lede van die klub 'n besonderse voorreg," het Van Zyl oor sy benoeming gesê. "Vir ons kultuurmusiek is dit 'n mylpaal om op nasionale vlak raakgesien en erken te word . . . Ek wil ook met ’n breë bors aankondig dat die Boeremusiekklub Namibië reeds in elf wêreldlande bekend is en ook ’n groeiende aantal Facebook-lede het. - Republikein

Johan kom uit 'n musikale familie en het selfs saxophone op skool probeer speel en behalwe bogenoemde prestasies en ander talente, restoreer en herstel hy ook musiek instrumente.

Johan het die wonderlike vermoe om dinge op 'n baie mooi manier oor te dra, hy gesels so oor sy mondfluitjie ondervinding;   "'n Baie dierbare vriend vra vandag dat ek en broer 'n ietsie moet skryf oor ons bekfluit opgroei en leer proses... wat my toe tref is dat die bietjie blasery word deur ander geniet en as mondfluitjie speel geag word . . . Ek was omtrent nege jaar oud toe ek op my pa se Hohner begin blaas het. Sal nooit vergeet nie; die eerste wysie wat baie maklik gekom het was Stille Nag. Toe ons vir twee jaar weermag toe is, het ek en Thys (my tweeling broer) in die aande in die bed na die ligte, lampe, kerse uit is, sommer Afrikaanse en Engelse volkswysies gespeel . . . met 'n regulation band bekfluit, wat ons om die beurt geblaas het, suikerbossie, my hartjie my liefie, of sommer harmonics wanneer die reptoire depleted was . . . .
Die hele kamp op Oshivelo het altyd geluister. Indien ons die aand nie speel nie het die manne uit die ander tente ge-moan . . . dan hoor jy skielik in die nag stilte uit 'n ander tent....VAN ZYL!!!!!... speel iets man!!!.... wat my nou tref is dat dit miskien slaap lullabies was vir party manne. ..ander se verlange is dalk bietjie gestil....miskien het iemand se stil trane oor iets opgedroog.....gelukkig was daar twee van Zyltjies om die drie maande om te blaas.....ek wonder of die ouens ooit agtergekom het watter blaser het wanneer geblaas. niemand het ooit dankie gesê nie, want mens praat nie oor donker tyd se eensaamheid in die dag lig nie.....die tweeling se regulation band was die eiendom van D-Eskadron se nag lewe en wie sê dan dankie vir dit wat aan almal behoort . . . . Na die weermag het ek altyd ‘n fluit gehad maar nie gespeel nie.

Die laaste vyf jaar het ek so hier en daar gespeel maar het dit nooit ontwikkel soos Thys nie. Ek gooi maar eerder banjo en kitaar. Weet jy . .  ek het my fluit spelery eintlik verwaarloos. Ek sal maar weer die fluit optel en myself begin vermaak. Ek het ‘n baie sleg gewoonte om te veel goed tegelyk te wil leer. Bv. Ek oefen konsertina, boere konsertina, knoppies akkordion, trekklavier, kitaar, banjo, mondfluit, pennywhistle, bas kitaar en soms klawerbord. Verstaan jy my probleem. Hehehe (of liewer my siekte en uit almal kry ek ‘n paar wysies)…..het op skool sax ook probeer..verbeel jou.".  --Johan van Zyl

Luister hier na Johan se mondflutjie liedjies.




RSA Mondfluitjie Spelers Argief

Loggie van Loggerenberg


Roodepoort se passievolle mondfluitjie speler


“Ek sal mense laat huil met my manier van mondfluitjie speel” – Loggie. - LookLocal 21 November 2012 | Clinton Botha

Elke man het sy passie en Loggie van Loggerenberg ‘n inwoner van die area s’n is mondfluitjie speel.

Nou is Loggie vasbeslote om sy ondersteuners te laat weet hy bestaan nog en bereid om by kerke, skole of partytjies te speel vir ‘n ekstra geldjie. “Mondfluitjie is baie naby my hart en ons kom al ‘n lang pad,” het Loggie aan die Northsider vertel. Inderdaad. Loggie speel al mondfluitjie – ‘n instrument wat miskien nie een van die mees bekende instrumente onder die nuwe jeug sal wees nie – sedert die ouderdom van sewe.

“Mens kan mos nie als net weggooi nie en ek sal mondfluitjie speel solank as wat ek kan – Dit het my juis gemotiveer om nie op te hou nie en weer te begin speel.” Loggie se liefde vir dié instrument het als begin toe hy terug oppad is huis toe as 'n sewejarige seun was. “Dit was na ‘n fliek by die bioscope waar ek ‘n mondfluitjie in die straat sien lê het. Ek het dit opgetel en begin blaas. Ek was verskriklik mal oor die geluid wat uitgekom het. Sedert dien het ek elke dag op die instrument aanhou poer-poer.” 

Die mondfluitjie-gogga het vir Loggie gebyt en so erg dat Loggie vir 50 jaar aanhou speel het. “Ek is een van die beste in die land,” het Loggie met selfvertroue gesê. “Ek het ‘n unieke styl wat my anders as meeste mondfluitjiespelers maak. Ek sal baie mense laat huil met my manier van mondfluitjie speel.” 

Indien jy van Loggie se mondfluitjie talent gebruik wil maak, skakel hom op 073 235 1728 of 011 679 1966.

Behalwe mondfluitjie speel is Loggie ook ‘n prominente baskitaarspeler. Hy en sy broer het op ‘n jong ouderdom ‘n orkes van vier met die naam Dixie Rebels begin. Na een jaar het die groep opgebreek waar die fantastiese Glen Dickson and the Shufflers gevorm is. Dinge met die groep wat vir vier jaar saam gespeel het toe ook nie uitgewerk nie en uiteindelik ook opgebreek.

http://www.looklocal.co.za/looklocal/content/en/roodepoort-northside/roodepoort-northside-news-general?oid=6535846&sn=Detail&pid=4730258&Roodepoort-se-passievolle-mondfluitjie-speler

Wat is fout met my mondfluitjie?

Wanneer jy kyk hoe die pryse van mondfluitjies met 'n kommerwekkende tempo styg, sou mens verwag dat die kwaliteit en vakmanskap hand aan hand saam die hoogte inskiet. Alhoewel daar onlangs ongelooflike deurbrake gemaak is in die ontwikkeling van nuwe tegnologie vir die mondfluitjie, is daar nog steeds heelwat ernstige tekortkominge wat vir een of ander rede deur die vervaardigers misgekyk word. Kyk bietjie na die volgende:


1. In vergelyking met ander instrumente, het die mondfluitjie 'n baie lae volume, probeer maar saam met 'n konsertina of trekklavier speel. Dit help ook nie om harder te blaas nie want die rietjies verstik of breek met die probeerslag.

2. Probeer 'n legato frasering, waar jy van 'n hoë na lae noot en terug moet beweeg sonder rus tussenin. Maklik op ander instrumente, soos die klavier, maar feitlik onmoontlik op die mondfluitjie.

3. Nog 'n aspek waar selfs die beste spelers probleme vind aangaande intonasie en artikulasie, is die gebrek aan kromatiese note op die diatoniese mondfluitjies. Met die ongelooflike moderne tegnologie moet daar tog iewers 'n oplossing wees sonder om die ekspressiewe warm ''bluesy'' toon te verander. Selfs die gebuig van note om die ontbrekende note te vind is beperk, moeilik en selfs onmoontlik vir party spelers.

4. Die oplossing vir die gebrek aan kromatiese note was natuurlik die tremelo en oktaaf mondfluitjies maar onmiddelik het jy die buig note verloor wat die ''bluesy'' klank van die mondfluitjie so uniek maak.

5. Die volle kromatiese mondfluitjie, met die skuifknoppie, is 'n swak alternatiewe oplossing vir die gebrek aan kromatiese note. Aloewel die wind kleppe (wat gereeld vassteek) verhoed dat die note gebuig kan word is die skuif-meganisme van nature baie winderig en 'n moeilike instrument om te speel in meeste van die 12 sleutels. Die klank het ook 'n gebrek aan warmte in vergelyking met die diatoniese mondfluitjies.

Hierdie is maar net 'n paar tekortkominge van die moderne mondfluitjie, wat natuurlik ook 'n goeie ding is, want waar daar probleme is word daar gestrewe na oplossings. Wie weet wat die toekoms inhou vir die mondfluitjie.

Tong-blok of 'tuit'?

As jy al vir 'n geruime tyd golf speel sal jy besef, met nawete, dat die rampsoedigste ding wat jy kan doen is om 'n ''hoe speel mens golf'' boek of video te gaan bestudeer. Jou spel sal nooit weer dieselfde of so goed wees nie. Dit geld ook vir mondfluitjie speel, meeste van ons was so ywerig om te leer speel dat ons dit van die begin af sommer net so in ons mond gedruk en begin blaas en suig het sonder om te dink wat die beste manier is; tong-blok, pucker, u-blok, beweeg ons die kop, die tong, die kakebeen of die mondfluitjie?

Die beste raad, sonder om in die fynste besonderheid te gaan is; probeer alle maniere en behou die goeie! Waarom? As jy die speel style van die bekendste mondfluitjie spelers bestudeer, sal jy agterkom dat almal iets in gemeen het. Hulle almal kan vreeslik baie goed mondfluitjie speel, ongeag hoe en wat hulle met die ding maak.

Die wêreld bekende jazz mondfluitjie speler Toots Thielemans het sy kop vinnig heen en weer beweeg wanneer hy 'n ''trill'' doen en Tommy Reilly weer net die teenoorgestelde deur die mondfluitjie heen en weer te beweeg en sy kop stil te hou. (vir die oningeligdes; 'n trill is die vinnige heen en weer beweging tussen twee note gewoonlik langs mekaar op die mondfluitjie, blaas of suig) Muddy Waters het verkies om dit 'n ''warble'' te noem. Baie blues spelers noem dit 'n 'roll', daarom hoor ons van die term; kop-rol of hand-rol . . . of kop-skud (headshake) en hand-skud . . . dieselfde ding. Daar is ook spelers wat dit perfek met die tong doen en ander met die kakebeen.


Dieselfde geld vir die tong-blok en tuit (pucker) manier van speel, daar is meesters aan alby kante van die grens, en ander wat 'n mengelmoes van metdodes suksesvol gebruik. En as hulle so goed speel op hulle manier . . . wie is ons om daaroor te argumenteer . . . . probeer die verskillende metodes en doen net wat die beste vir jou werk. As mense na jou musiek op 'n CD luister, kan hulle in elk geval nie sien wat jy met die mondfluitjie doen nie, solank dit goed klink, dan is dit die beste manier vir jou.
Ten nadeel van musiek en die maak daarvan, is daar alewig 'n neiging om dit met reëls en riglyne te bepaal en te strem. Vir een of ander rede voel mensdom 'n verpligting om dit te kategoriseer en te definieer, kyk maar wat hulle gedoen het met country-, klasiekke-, blues- en jazz musiek. Dit is 'n ongelukkige feit dat met die verloop van tyd, die maak en bevordering van musiek belemmer en gestrem word, met kodes van praktyk, riglyne, arbitrêre grade van kwalifikasie ens. ens.

As jy reeds goed kan speel, op jou manier, kan dit jou jare terugsit om 'n nuwe manier van voor af te bemeester wat miskien nie eens jou spel gaan verbeter nie. Probeer eerder om die beste aspekte van 'n spesifieke styl of manier in te pas met jou eie as jy daarby baat gaan vind. . . en as dit jou spel gaan verbeter.


Doelgerigte Oefen Routine

Daar is twee maniere van dinge doen: 1. doen dit om net klaar te kry, . . . of 2.  doen dit met 'n spesifieke doel in gedagte. Wanneer jy oefening aanpak met 'n spesifieke doel in gedagte, met gevorderde kennis en begrip van die taak, is 'n suksesvolle uitkoms verseker.

As jy die skale op die mondfluitjie oefen net om die les verby te kry, sal dit nie so suksesvol wees as wanneer jy presies weet hoe daardie skale in liedjies werk en hoe jy dit kan toepas in musiek nie. Daar is 'n merkwaardige verskil tussen doelgerigte oefening en doellose oefening.

Die volgende punte sal jou help om jou oefen routine doelgerig te maak:


1. Staan tyd af en gee jou volle aandag aan die oefening, geen TV, geen foon, geen internet, geen niks.

2. Werk en fokus net op 'n gebied waarmee jy sukkel, herhaal totdat jy dit baas geraak het.

3. Neem dit baie stadig vir eers en stop onmiddelik wanneer jy 'n fout maak anders versterk jy net die fout.

4. Maak 'n opname van jou oefening en luister baie krities daarna, herstel foute onmiddelik voordat dit 'n gewoonte raak.

5. Hou die oefen periode kort en kragtig.

6. Oefen gereeld, dis beter om 'n aantal kort sessies te oefen as een baie lang sessie.

7. Pligsgetroue, gereelde, doelgerigte oefening is vordering!! Vordering is sukses!!

Mondfluitjie Speelplek!!

Stap Drie

Een ding wat die mondfluitjie nie vir jou kan doen nie, en dit is om die liedjie vir jou te speel. Jy moet reeds die liedjie of wysie noot vir noot vlot kan sing of fluit, voordat jy dit op die mondfluitjie probeer, ongeag hoe goed jy jou mondfluitjie ken. Almal, en ek bedoel almal moet die liedjie eers leer en dan oefen op die mondfluitjie voordat dit met gevoel en met ‘n passie gespeel kan word. Daar is diegene wat beweer dat hulle sommer net so vanaf bladmusiek kan speel, maar in die dekades dat ek mondfluitjie speel het ek nog nie so ‘n persoon raakgeloop nie, klavier spelers wel, maar nie mondfluitjie spelers nie. 

So hoe kan jy die liedjie vinnig in jou kop kry?
Hier is 3 stappe wat gaan help:
Stap 1
Luister na die musiek vooraf, gaan op Youtube en kies die weergawe van die lied waarvan jy die meeste hou. Fluit of sing dan saam terwyl jy daarna oor en oor luister. Werk die uitleg van die liedjie uit, watter gedeeltes herhaal hulleself, wat is die chorus, wat is die selutel, is daar ‘n sleutel verandering en werk die akkoordprogressie uit. Luister noot vir noot na die gevoel, die tempo en moet nie die rus periodes tussenin vergeet nie, tel die ritme af met jou voet. Dit is gefokusde super-gekonsentreerde luister kundigheid, ‘n intieme bekendheid met die wysie wat jy moet baas raak. 

Stap 2
Breek die liedjie op in kort gedeeltes en probeer dit dan op die mondfluitjie. Ek gebruik sagteware soos Riffstation, Transcribe! en selfs die gratis sagteware Audacity waar jy ‘n kort gedeelte kan kies en die tempo verminder sonder om die sleutel te verander. Onthou, as jy nie die wysie kan sing of fluit sonder om na die opname te luister nie, gaan dan terug na Stap 1. Speel die kort gedeeltes in groeppies en las by totdat jy die hele lied vlot kan speel.

Stap 3
Oefen, oefen, oefen. Maak ‘n opname van jou spel en luister baie krities daarna, speel met ‘n passie en met gevoel. Eers as jy die liedjie vlot kan speel, speel dit dan voor ander mense om jou selfvertroue op te bou. Maak ‘n opname van die hele lied, sonder om na die oorspronklike opname te luister en probeer dit so oor die maande en jare wat kom te verbeter.

STAP 2

Hoe speel ek Koord Ritme op my mondfluitjie?


Elke orkes gebruik ritmiese instrumente om die pas en die koord aan te gee. Vir die mondfluitjie orkes is die koord mondfluitjie natuurlik ideaal hiervoor . . . as jy dit kan bekostig natuurlik. Omdat ritme en koorde so belangrik is in dans musiek kan dit op 'n goedkoper manier gedoen word deur gewone diatoniese of kromatiese mondfluitjies te gebruik. Wat is nou mooier as die ''tjoeg-tjug-tjoeg-tjug'' klank van 'n luierende stoom enjin, iets wat die mondfluitjie maklik kan namaak.


Die beste van alles is dat jy nie baie musikale onderrig nodig het om dit baas te raak nie. Met 'n kitaar of klavier moet jy 'n hele paar vingers op verskillende plekke plaas om 'n koord te kry, met die mondfluitjie hoef jy net op die regte plek te blaas of suig, want die note is reeds vooraf deur die fabriek bepaal. Met 'n bietjie ritme, wat met die tong en keel of kakebeen gemaak word, kan 'n persoon maklik binne 'n kort periode 'n hele paar liedjies vergesel sonder moeite. En alhoewel 'n enkele mondfluitjie baie beperk is as gevolg van die beskikbare koorde daarop, kan twee of drie mondfluitjies die ontbrekende koorde invul. Geen ander instrument kan so 'n unieke klank maak nie, veral as dit bespeel word deur 'n speler wat sy mondfluitjies en koorde goed ken.



Om ritmiese en koord instrumente na te maak moet jy noukeurig na die musiek stuk luister en experimenteer met jou mond, tong en keel. Praat deur die mondfluitjie, sonder om die stembande te gebruik, vorm die mond, tong, kakebeen en keel met hierdie letters; uuh, aah, ooh, ôi, ôk of êê, ens., en hoor hoe dit klink deur die mondfluitjie. Probeer 'n wals; ooom, pah, pah. Sekere woorde en letters maak meer perkussie klanke as ander, skryf die bestes neer en gebruik hulle gereeld. Maak jou eie ritmiese klanke op en ontwikkel jou eie tegniek.


Ken jou mondfluitjie!!! Begin deur uit te werk waar al die koorde op jou mondfluitjie is. Hier is 'n paar skakels wat jou gaan help: 

Hier is die note waaruit koorde bestaan.

Hier is voorbeelde van koorde wat ek voorheen uitgewerk het vir die 10 gaatjie diatoniese mondfluitjies.

Stap Twee

Daar is geen geheimsinnige of wonderbaarlike formule om die mondfluitjie te leer speel behalwe om dit in jou mond te sit en self uit te werk waar al die note lê nie. Seker die maklikste is om die majoor skaal te leer speel, want daarmee kan jy begin wysies speel. Die volgende, die belangrikste om vinnig te verbeter, is oefen, oefen, oefen. Al die beste spelers in die wêreld moes van voor af, reg van die begin-stadium, soos die res van ons, begin het.

Hoe meer jy speel hoe beter sal jy raak want jy leer jou mondfluitjie ken, binnekort het jy nie nodig om uit te werk waar die note lê nie, dit kom vanself sonder om te dink. Dis soos fietsry, jy sukkel eers so ‘n bietjie dan skielik kom jy reg. So hoe werk jy uit waar die note lê op jou mondfluitjie?

DIATONIES: Onthou jy nog musiek klas op skool, hierdie woorde; “Doe, Ray, Me, Fa, So, La, Tea, Doe” weergalm nog in my ore. Dit is die fondasie van alle liedjies. En maak nie saak watter sleutel jou fluit ingestel is nie, dit begin op gaatjie 4. Probeer die volgende:

4 = blaas . . . suig
5 = blaas . . . suig
6 =blaas . . . suig
7 =suig . . . blaas


do  re   mi   fa   so   la  tee   do
C   D    E     F    G    A    B    C Sleutel
-------------------------------------
4    4    5     5     6    6    7    7 Gaatjie
B   S    B    S    B    S    S    B
B(rooi)=blaas - S(blou)=Suig

Luister hier:



Hierdie klank-snit is gedoen op 'n C diatoniese 'blues' mondfluitjie maar die uitleg is presies dieselfde vir enige van die ander sleutels. Die uitleg is ook min of meer dieselfde vir die TREMELO fluite. Oefen hierdie les oor en oor, vorentoe, agtertoe, totdat jy dit goed kan speel. Daar is omtrent ‘n duisend liedjies wat net hierdie 7 note bevat, probeer dan die maklikste liedjies wat jy ken en oefen dit gereeld sodat jy gewoond kan raak aan die uitleg van jou mondfluitjie.

Op die KROMATIESE fluite is dit dieselfde as die Diatoniese fluite as jy in die sleutel van C speel, daarna raak dit so ‘n bietjie meer ingewikkeld soos jy boontoe op die skaal beweeg want jy moet die skuifknoppie meer gereeld gebruik vir elke sleutel. Ons sal dit in ‘n aparte les bespreek.

Stap Een



Indien jy vasbeslote is om mondfluitjie te leer speel, dan is dit belangrik om presies te verstaan watter tiepe fluite daar is en hoe die verskillende tiepe fluite ingestel is. Alhoewel dit waar is dat tremelo en diatonies mondfluitjies die twee algemeenste tiepe fluite is wat wêreldwyd gebruik word, is daar ander tiepes wat van belang kan wees vir die beginner sodat hy kan kies wat die beste moontlike instrument vir hom is.

Diatonies: Wat trek die hartspiere beter as die klank van ‘n blues mondfluitjie op ‘n stille nag. Hierdie 10 gaatjie mondfluitjie is die top verkoper in die mondfluitjie wêreld. Die nadeel is dat jy het 12 fluite nodig om in al die sleutels te kan speel, indien jy nie note kan buig nie. Daar is wel 7 note, vanaf gaatjie 4 wat die majoor skaal opmaak, verder is dit heelwat beperk as jy wysies daarop wil speel, veral vir beginners, maar daar is tog byna ‘n duisend liedjies wat net hierdie 7 note bevat. Dit is baie gewild onder die blues spelers, maar word ook gebruik vir meeste ander genres. Pryse wissel van spot-goedkoop tot peper-duur. Hohner Marine Band en Hohner Special 20 is die gewilde modelle.

Tremelo: Ook diatonies ingestel, jy het ook 12 fluite nodig in elke sleutel en omdat daar twee rietjies per gaatjie is, om die tremelo klank voort te bring, is dit baie moeilik om note te buig daarop. Baie gewild onder die boeremusiek gemeenskap so ook onder Ierlandse en die Celtic musiek spelers.

Kromaties: Met hierdie tiepe mondfluitjie kan jy ‘n paar majoor skale daarop speel, (hang af hoeveel gaatjies dit het) soos wat jy op ‘n klavier kan doen en in enige sleutel speel deur die skuif knoppie te gebruik. Dit is baie gewild onder klassieke en jazz spelers. Die prys kan nogal heftig wees vir ‘n goeie fluit. Bave Barlow, Larry Adler, Vincent van Rooyen en Brendan Power is maar net ‘n paar van die bekende spelers wat met hierdie fluite speel of gespeel het.




Ander fluite sluit in, 
Orkes fluite soos Koord en Bass en 
fluite wat spesifiek gemaak word na spelers se belang.







STAP TWEE

Vic Viviers

Jacobus PJ (Vic) Viviers

Gebore en grootgeword in die verre Noord-Transvaalse bosveld gedurende die groot depressie en moeilike jare van die tweede wêreldoorlog.

Hy en sy wederhelf kruip tans weg in Wildernis se wildernis tussen Knysnaloeries en ‘n verstommende verskeidenheid voëllewe, waar blouape tussen die pers blomme van die bosklimop, soms bietjie lastig raak. Dit alles met ‘n panoramiese uitsig oor die Langvleimeer, die roep van jakkalsvoëls en visarende en die Indiese Oseaan se veraf druising.

Volgens Vic is hy ‘n professionele syferman met ‘n onderdrukte kunstalent en skeppingsdrang. Hy het hom al besig gehou met ewigdurende beweging [te vergeefs], motorontwerp ;-), skilder en beeldhou, maar deesdae meestal met koperwerk en fotografie. Ouderdom is besig om Vic se verslawing aan ski en backpacking ‘n stadige knou toe te dien…

Hy ondervind van tyd tot tyd ‘n drang om ‘n gedig neer te pen – nie poëtiese diep goed nie, maar eerder iets oor die oomblik – heelwat hiervan by of van sy braaivuurtjie en soms maar sommer lekker nonsies, “maar die goed is vir my soos foto’s – dit laat my terugdink aan 'n besondere oomblik”.

Hy is ook 'n man wat 'n slag kan slaan met die mondfluitjie, gaan luister gerus na sy pragtige liedjies en videos HIER



Waars die Onnies??

Hoe is dit moontlik om ‘n mondfluitjie baas te raak wanneer daar ‘n gebrek aan gekwalifiseerde onderrigters of onderwysers is? Hoe verbeter ‘n student sy spel as daar geen onderrigter is nie? As gevolg van hierdie probleem het baie voornemende mondfluitjie spelers hulleself toegewy aan lesse op die internet, met Youtube as hoof verskaffer van inligting en onderrigting ten spyte van die feit dat baie van die lesse daar verskaf word deur onkundige spelers. En alhoewel die uiteindelike resultaat vir meeste uitgeloop het as ‘n sukses, sal baie erken dat hulle baie vinniger sou gevorder het met ‘n gekwalifiseerde onderrigter, die gebrek aan selfvertroue wat hierdie spelers ondervind en die eindelose soektog na ‘’die geheim’’ wat hulle ‘’misgeloop’’ het is bewys hiervan.

Miskien kan ons iets leer uit hoe ons voorvaders dit gedoen het. Hoe het vincent van Rooyen, Dave Barlow en die ander meesters van die mondfluitjie verlede hulle virtuoso’s bereik, in die dae toe daar absoluut geen mondfluitjie onderwysers was nie. My oom Edmund Verwey het vertel dat in die dae voor Vincent van Rooyen sy bekendheid verwerf het, hulle gereeld as ‘n klein help mekaar groeppie saam gespeel en geoefen het. Ek moet natuurlik erken dat nie almal in die groep bekendheid verwerf het nie, maar daar was groot sukses onder meeste van hulle, want my oom kon daardie mondfluitjie laat gons soos min.

Baie Universiteite gebruik ‘’peer to peer’’ onderrigting suksesvol, waar ‘n groeppie studente mekaar uithelp en ondersteun om ‘n kurses baas te raak. Ons kan dit met die mondfluitjie ook vermag. Gaan soek mondfluitjie spelers wie naby jou woon en organiseer dan ‘n klein ‘’werkswinkel’’ waar almal mekaar uithelp en saamspeel om die mondfluitjie te verbeter. Gaan heg jou naam by op hierdie landkaart van mondfluitjie spelers in RSA en kontak mekaar.



Die gebrek aan gekwalifiseerde mondfluitjie onderwysers in RSA is geen verskoning om nie eendag meester te raak van die mondfluitjie nie.

Mondfluitjie Speelplek


Verbeter jou spel deur jou mondfluitjie speelplek in so 'n manier op te stel dat dit vir jou maklik is om te oefen. Hier is 'n paar wenke wat jou hiermee kan help.


1. Indien moontlik, probeer altyd regop staan wanneer jy speel sodat jy die volle volume en funksies van jou longe kan benut. Kyk Hier! Plaas alle hulpmiddels hoog genoeg, plak die bladmusiek teen die muur, om daardie goeie postuur te behou.


2. Hou 'n metronoom byderhand sodat jy van die begin af altyd in tyd en tempo kan speel. Of gebruik sagteware soos Riffstation waar jy die metronoom se volume harder kan stel sodat jy dit kan hoor. Jy kan ook die tempo stadiger stel (sonder dat die sleutel verander) sodat jy kan byhou met die musiek.


3. Gebruik 'n stophorlosie om te verhoed dat jou sessie nie te lank is nie, veral as dit intensiewe konsentrasie vereis, nie meer as 10 tot 15 minute op 'n slag nie. Verseker dat dit ''pret'' bly deur dit kort en kragtig te hou. Jy onthou jou lesse beter wanneer dit kort en gereeld is. Maar speel so lank as wat jy wil met liedjies wat jy reeds goed kan speel veral as jy saam met 'n CD of orkes speel.

4. Hou jou Speelplek stil en privaat sodat jy ongestoord en ononderbroke kan oefen.

Oefen tyd word altyd verwaarloos as dit 'n ongerief of moeite is. Identifiseer en verwyder alle obstruksies.


Hier is 'n paar skakels vir bogenoemde:

Gratis Metronoom
Gratis Stophorlosie
Gratis Mondfluitjie Tabs

Piet Grobler

Piet Grobler, bekend vir sy natuur fotografie, speel ook al baie jare lank mondfluitjie. En vir my is sy verwerking van die pragtige Fynloop Settees van oom Manie Bodenstein uit die boonste rakke. Dit is seker een van die moeilikste liedjies om in daardie sleutel te speel op 'n kromatiese mondfluitjie as gevolg van die baie sharps en flats in die skaal. Maar oom Piet speel dit foutloos en maak dit so maklik lyk dat jy nie werklik besef hoe baie konsentrasie en werk daaraan verbonde is nie. Dieselfde geld vir die ander liedjies wat hy hieronder speel, ondanks die baie knoppie gebruik en ingewikkelde noot uitleg van hierdie liedjies, speel hy met intense emosie en 'n passie soos 'n ware meester


'Elke mondfluitjiespeler het sy eie styl en praat sy eie taal. Musiek kan afskuwelik klink wanneer dit gewoonweg op 'n bekfluitjie gespeel word, maar sodra 'n mens ernstig daarop begin speel dan klink hy anders en praat hy met 'n mens. . . ' het Vincent Van Rooyen gesê. En oom Piet praat die taal!! Vandag is daar ongelukkig te min van hierdie gehalte van mondfluitjie spelers oor in Suid Afrika. Ons hoop ter harte dan hierdie 'n aansporing gaan wees sodat meer hierdie ongelooflike instrument sal opneem om ons musiek aan die brand kan blaas.
Hier onder is skakels na 'n paar van sy liedjies en video:

Johannes Petrus Buitendag

Oom Hannes het op sy tiende verjaardag ‘n “G-Regulation band”-mondfluitjie as geskenk gekry en homself geleer om dit te speel en deur te luister na wat die mense sing en die musiek te speel, het hy die musiek van die Oos-Transvaalse platteland, ongeskonde sy lewe lank gespeel.
Later het oom Hannes stad toe gekom en hy het by die TBK betrokke geraak en sy mondfluitjiespel was ‘n bekende item by byeenkomste. Dit was te pragtig toe hy so drie jaar gelede by ons, aan die tafel gesit het en so deur die aand so ‘n klipdriffie of wat saam met ons geniet het. Toe die byeenkoms eintlik so te sê uitgerafel het, vra oom Hannes vir Stephaan of die Oudag nie kans sien om hom vir oulaas te begelei vir ‘n paar nommertjies nie. Hy het die mondfluitjie uit sy sak gehaal en oom Hannes het daardie aand verstommend netjies gespeel vir ‘n musikant van 94 jaar. Mens kon hoor hy gee alles, want dit was sy swanesang.
 Ons onthou oom Hannes as ‘n waardige mens en lid van die TBK en as musikant wat oor byna sewentig jaar, met die mondfluitjie, kitaar, banjo, ukulele en viool, getrou sy bydrae gemaak het.
https://www.youtube.com/watch?v=YAdHSOWV5mE&list=PL3e8FACz4AgLngotpQMCpb0NtmR8cWxB-

Lees hier verder.            
http://www.boeremusiek.org/Afrikaans/Nuus/Hanekraai/2008-05%20Hanekraai%20nr%205.pdf

So Maak Mens . . .

Seker die mees elementere of basiese beginsel om 'n musiek instrument te leer speel is om die majoor skaal daarop te kan speel. Van kleins af was ons op skool geleer om die: Do, Re, Me liedjie te sing, nie seker of hulle dit nog deesdae doen nie. Onthou jy nog die ''Sound of Music'' liedjie wat so klink: ''DOE a deer, a female deer, RAY a drop of golden sun, . . .'' ens. Dit leer vir ons die basiese 8 note van die majoor skaal, (sonder die sharps en flats natuurlik).

Probeer dit gerus op jou mondfluitjie, en begin op gaatjie 4;
4 = blaas . . . suig
5 = blaas . . . suig
6 = blaas . . . suig
7 = suig . . . blaas


do  re   mi   fa   so   la  tee   do
C   D    E    F    G    A    B    C Sleutel
-------------------------------------
4   4    5    5    6    6    7    7 Gaatjie
B   S    B    S    B    S    S    
 
B(rooi)=blaas - S(blou)=Suig


Luister hier:




Hierdie klank-snit is gedoen op 'n C diatoniese 'blues' mondfluitjie maar die uitleg is presies dieselfde vir enige van die ander sleutels. Oefen hierdie les oor en oor, vorentoe, agtertoe, totdat jy dit goed kan speel. Daar is honderde liedjies wat net hierdie 8 note het, probeer eers die maklike liedjies wat jy ken en oefen dit gereeld sodat jy gewoond kan raak aan die uitleg van jou mondfluitjie.

Speel met gevoel
Speel hierdie skaal drie keer sodat elk so klink: . . . . die eerste 'vrolik' . . . . die tweede 'treurig' . . . . en die derde 'aggressief'. Speel dit vir iemand en sien of hulle die ''gevoel'' kan uitken.