2017 Mondfluitjie Kompetisie





Sluitingsdatum: 1 September 2017 - Begin Oefen!!!!

INSKRYWINGS

Almal en enigiemand, woonagtig in Suiderlike Afrika, is welkom om deel te neem, (behalwe die administrateur (Japie Goosen) en professionele spelers). Enige ouderdom, vaardigheid vlak of styl van spel is welkom. Daar is geen inskrywing fooi nie.

MP3 of VIDEO Inskrywings

Deelnemers moet hulle videos of mp3, (of skakels daarna), op Mondfluitjie Boeremusiek se tydlyn plaas sodat dit beoordeel kan word. (of epos dit na japieart@gmail.com) Maak ‘n ‘’vertoon venster’’ op Youtube of Soundcloud oop en laai net jou beste werk daarin, jy kan dan maklik ‘n skakel na jou liedjie op ons tydlyn pos. Jou inskrywing moet duidelik; 

2017 Kompetisie - liedjie se naam - kategorie - diatonies of kromaties gemerk word. 

Jy mag onbegeleid speel of met begeleide agtergrond musiek, solank dit nie nog 'n riet instrument insluit nie, wat moontlike verwarring kan veroorsaak. Jou mondfluitjie spel moet duidelik hoorbaar wees sodat net jou mondfluitjie spel beoordeel kan word.

Twee Afdelings, Diatoniese en Kromatiese Mondfluitjies per kategorieë.



Bv: As jy ‘n Boeremusiek liedjie met ‘n diatoniese mondfluitjie speel, merk jou inskrywing opsie duidelik langs die liedjie se naam:

“Outa in die Langpad 1A” . . . . of

“Outa in die Langpad - boeremusiek - diatonies”

Jy mag liedjies inskryf vir al die kategorieë, afdeling 5 is slegs vir die Jongspan. Jy mag net een liedjie per kategorie inskryf, skryf slegs jou beste in, en speel dit met die beste gevoel en passie moontlik. Die beoordelaars sal baie gou kan vasstel hoe goed jy is volgens jou eerste paar note, hou die musiek kort en kragtig, daar is geen ekstra punte vir hoeveelheid nie. Die klem is op luistergenot. (Skryf slegs jou eie werk in, bedrieërs sal blootgestel en onmiddellik gediskwalifiseer word) 

Alhoewel daar uitstekende mondfluitjie spel by die 2016 kompetisie was, het die begeleidende agtergrond musiek vir party spelers in die steek gelaat deur te veel volume of ‘reverb’ wat die speler uitgedreun het. 
Vermy ook om saam met ‘n liedjie te speel wat reeds ‘n leidende solo instrument of sanger het, jy gaan elke keer verloor, want jy word gemeet teen ‘n professionele verwerking. 
Moet ook nie saam met ‘n ander riet instrument (ander mondfluitjie, konsertina, trekklavier) speel nie, dit sal jou spel uitdreun en ook verwarring veroorsaak gedurende die beoordelings proses. 

Beoordeling - SLUITINGS DATUM is 1 September 2017
Slegs kompetisie deelnemers mag beoordeel.


Opsommings grafieke

Spelers mag net vir mekaar stem, maar nie vir hulleself nie.

Wysig soveel as jy wil, maar jy kan net een keer per inskrywing stem. (IP regulering)

Volg die beoordeling deur die opsommings grafieke te volg. (kliek op ''see previous responses'')

sien voorbeeld: https://docs.google.com/forms/d/14S...
en

https://docs.google.com/forms/d/14S...

Gebruik die volgende riglyne om te beoordeel:
- Luistergenot - wil ek meer hoor of het ek genoeg gehad?
- Emosionele kommunikasie - prikkel dit emosie?
- Energie - doelbewuste note, positiewe speelstyl, goeie tempo?
- Tegniek - speel styl, vloeiende klank, harmonisering?
- Toon kwaliteit - akkutare note, goeie ritme, vaardigheid?

HOE OM TE STEM:
Die skakel vir beoordeling sal op die 2 September hier gepos word en daar sal dan 10 dae toegelaat word om te beoordeel. Hier is solank ‘n voorbeeld: Probeer gerus, dis net ‘n proefneming vir probleem oplossing. Speel bietjie daarmee rond om met dit vertroud te raak. https://goo.gl/forms/EfgcDWDpy73HhbJi1

‘n Grafiek tabel met resultate sal gepos word.


Resultate van beoordeling

PRYSE

Wenners vir sertifikate sal gekies word as Suider Afrika se beste mondfluitjie spelers van 2017 per kategorie en per afdelings, waaruit een algehele wenner gekroon gaan word as ‘’Speler van die jaar’’ met ‘n trofee beker as prys. 



Alle deelnemers wat nie 'n 'wen sertifikaat' ontvang nie, sal 'n 'deelname sertifikaat' ontvang vir hulle bydrae aan die kompetisie, die mondfluitjie en ons musiek.

Doel van Mondfluitjie Kompetisie 

1. Om spelers die publieke erkenning te gee vir hulle vaardigheid as mondfluitjie spelers, as kunstenaars, as musikante en hulle bydrae tot die bevordering, bewaring en ondersteuning van die mondfluitjie in Suiderlike Afrika. 
2. Om spelers beter voorbereid te maak vir hulle vaardigheid met die mondfluitjie en ons musiek, of hulle wen of nie. 
3. Dit bou selfvertroue, verwerf ondervinding en verbeter spel, styl en tegniek. 
4. Vir party klink ‘n kompetisie vir die mondfluitjie belaglik, maar as ‘n kunsvorm, soos vaardigheid met ander instrumente, lok dit belangstelling en het ‘n positiewe uitwerking op deelnemers en luistelaars. 
5. Ons besef ook dat deelnemers hulleself in ‘n kwesbare posisie plaas deur beoordeel te word, maar objektiewe evaluering is noodsaaklik vir vordering. 
5. Dit verskaf ‘n belangrike doel vir ontluikende talente en vir deelnemers om van mekaar te leer, yster slyp yster, veral wanneer daar ‘n gebrek aan professioneel opgeleide mondfluitjie onderrig is. Volg die goeie spelers se voorbeeld na. 
6. Kompetisies is ‘vertoon vensters vir potensiële talente en toekomstige kunstenaars of musikante. 
7. Deur mekaar te beoordeel leer spelers ook wat die eienskappe van ‘n goeie mondfluitjie vertoning vereis. 

Wenners en alle deelnemers sal op ons argief aangeteken en behoue bly as erkenning van hulle deelname en prestasie. Ons hoop om so veel as moontlik aan te moeddig om daardie klein instrumentjie op te tel en deel te neem, met die klem op 'pret' natuurlik. Geniet!!!

Kies jou mondfluitjie vir die regte sleutel.

Gebruik hierdie tabel om jou te help om die mondfluitjie te kies vir 'n lied in 'n spesefieke sleutel.
Byvoorbeeld as jy 'n C mondfluitjie het kan jy liedjies in die volgende sleutels speel:

"Normaal" vanaf gaatjie 4 blaas, speel saam met 'n lied in C.

"2de posisie" vanaf gaatjie 2 suig, speel saam met 'n lied in G.

"3de posisie" vanaf gaatjie 4 suig, speel saam met 'n lied in D.

As jy 'n mondfluitjie het in 'n ander sleutel, kies dit hieronder om te sien watter ander sleutels jy daarop kan speel en waar jy moet begin.
-->
Mondfluitjie Sleutel Veranderings Tabel
Mondfluitjie 1st Posisie 2de Posisie 3de Posisie

Normaal

Algemeen gebruik vir eenvoudige wysies en volks- en rock musiek. Begin of eindig op gaatjie 4 blaas.

Cross Harp.

Algemeen vir blues, country, en rock. Begin of eindig op gaatjie 2 suig.

Derde Posisie

Fantasties vir liedjies in minor sleutels en minor blues. Begin of eindig op gaatjie 4 suig.
Indien die lied in kan jy speel met 'n mondfluitjie in tweede posisie, of jy kan speel met 'n mondfluitjie in derde posisie.
Webmasters, if you would like to place this table on your web site click here for instructions, courtesy of Harmonica Club.com

Bill Parsons

Bill Parsons staan baie jare reeds bekend as Suid-Afrika se mondfluitjiekoning. Hy is in Johannesburg gebore en het reeds van sy vroegste jare af 'n lewendige belangstelling vir sy geliefkoosde instrument begin toon. Op die jeugdige ouderdom van sewe, wen hy sy eerste talentkompetisie in Durban - en so begin sy ongeëwenaarde musiekloopbaan waartydens hy groot lof sou inoes. Vandag is Bill Parsons die trotse besitter van nie minder as 200 trofeë wat hy in dergelike kompetisies verower het nie. 

Sedertdien het Bill Parsons die hele land deurkruis en groot gehore op sy lang-asem-manewales met die mondfluitjie vergas. Hy speel enigiets van 'n wals tot ruk-en-rol en kan inderdaad as 'n veelsydige musikant bestempel word, want hy is heeltemal tuis op die basviool en die tromme. Die gewilde Bill Parsons se dienste is derhalwe ook in groot aanvraag en hy het met sommige van die voorste orkeste in die land opgetree, onder andere die van Ivor Turner, Louis de Lange en Hendrik Susan. Bill het ook sy eie orkes gehad en dikwels in Johannesburg en Pretoria die danspas aangegee.

Dit is egter as mondfluitjiespeler en komponis van mondfluitjienommers dat Bill Parsons hom onderskei. Die feit dat hierdie kunstenaar al meer as sestien jaar bekend staan as ,,Mondfluitjie se Moses", behoort vir u 'n aanduiding te gee van die ware musiekvermaak wat u te wagte kan wees wanneer hierdie meester-mondfluitjie·man lostrek. Hy speel 'n paar van sy eie komposisies en verwerkings op hierdie nuwe LS-plaat wat met die begeleiding van Regardo Bornman en Ken du Plessis op die ghitaar, Mannie Parkes op die basviool, Flippie van Vuuren op die trekklavier en Pat Higgins op die tromme opgeneem is. - vetseun.co.uk









  


Wat moet ek weet van my oupa se Regulation Band?

Baie van die mondfluitjies wat ons van ons oupa, of pa, of oom oorgeërf het is die Hohner Regulation Band mondfluitjies. Omdat daar verskillende tiepes was, wil ek net bietjie meer inligting aangaande hierdie mondfluitjies deel, sodat ons kan verstaan hoekom dit so anders klink as meeste hedendaagse mondfluitjies. Volgens huidige inligting was daar nie baie Regulation Band mondfluitjies gemaak nie. Hier kan jy identifiseer watter model joune is en hoe dit ingestem is:

#310 Hohner Regulation Band, Duitsland
#310 Hohner Regulation Band mondfluitjie is in tremolo ingestem, dit het 14 dubbel (vertikale-gepaarde) gaatjies op die mondstuk, 28 rietjies. Dit het oorvleuelde dek-plaatjies (ingespyker aan die linker en regterkante van die mondfluitjie), en die dek-plaatjies vorm 'n halfsirkel. Dit is omtrent 100mm lank, van links na regs, en was vervaardig oor 'n tydperk tussen 1907-1914. Die het kromatiese tremolo instemming gehad en was uitstekend vir melodie speel. 
Tremelo fluite het 2 rietjies per gat, een effens skerp ingestem en die ander effens ''flat". Dit gee 'n wankelende klank wat veroorsaak word deur die twee rietjies wat nie presies dieselfde ingestem is met mekaar nie. 
-- LUISTER HIER


F.A. Bohm, van Klingenthal, Duitsland 
Die F.A. Bohm Regulation Band het dieselfde beskrywing as Hohner RB. Dit was vervaardig tussen die tydperk van 1907-1914. Altwee mondfluitjies se instemming, dek-plaatjies en verpakking boksies lyk identies. Soek vir die maatskappy se naam. Dit is voorgestel dat die twee maatskappye miskien kragte saamsnoer het op 'n tyd, of die een het van die ander gekopieer om geld te maak uit nabootsing, nie seker wie die skuldige was nie. 

Hohner Registration Brand 
En net om meer verwarring te veroorsaak, Hohner het ook 'n model genaamd Registration Brand vervaardig, teen dieselfde periode tussen 1905-1920. Dit was ook verpak in dieselfde verpakking en het identies gelyk, geklink en ingestem in tremolo soos die bogenoemde Hohner Regulation Band. 

Hohner Regulation Band Oktaaf
'n Vroeë gunsteling onder mondfluitjie spelers van Ierland was die Regulation Band, ingestem in oktaaf instemming soortgelyk aan die huidige model 'Marine Band Full Concert 1896/40'  
Die oktaaf het ook twee rietjies in elke gat maar hulle is een hele oktaaf uit mekaar ingestem sodat jy byvoorbeeld 'n lae en hoë noot in dieselfde sleutel hoor. Daar mag van hulle in die vroeër jare in Suid Afrika beland het. Hierdie feit kan nie 100% bevestig word nie, ek sal later hier wysig soos ek die informasie ontvang.
Luister hier!

Hohner #7330 Regulation Band
Hohner #7330 Regulation Band was vervaardig tussen 1902-1914,  en het 20 dubbel gaatjies gehad, 40 rietjies, en was later herdoop 'Unsere Lieblinge'. Hierdie Regulation Band was ook vervaardig deur F.A. Bohm Harmonica Company, van Klingenthal, Duitsland. Bohm het die woorde; D.R.W.Z #182084 op die verpakking gedruk. Dit was ook in tremolo ingestem.

C.A. Seydel Sohne Registration Band
'n Derde firma, C.A. Seydel Sohne, het identiese mondfluitjies vervaardig en dit Registration Band genoem. Dit was ook in tremolo ingestem.

Terloops die hedendaagse Hohner Marine Band Concerto het dieselfde instemming as die tremolo Regulation Band.

Hokaai-stadig-man!!

Nuwe nuus: Youtube het uiteindelik hulle spoed vermindering funksie verbeter sodat jy die tempo van 'n lied vinniger of stadiger kan stel . . .  geheel en al GRATIS!!. Kyk hier:


Ou nuus: Al gewonder wat is die geheim van so baie suksesvolle musikante?? Hoe kry hulle dit reg om so vinnig 'n nuwe lied te leer speel. Daardie ingewikkelde kitaar gedeeltes of vinnige wysies wat amper onmoontlik is om te volg net van die CD af. Die antwoord: Spoed Vermindering. Alhoewel daar baie programme is wat dit vir jou kan doen, en glo my ek het al heelwat probeer, is daar net een wenner, en dit is TRANSCRIBE. Mens kan nie glo hoe moeilik en ingewikkeld party van die ander programme is nie, maar Transcribe is vreeslik maklik en dis GRATIS . . . ongelukkig net vir 30 dae, maar jy kan dit probeer voordat jy spandeer.



Transcribe is 'n ongelooflike voorbeeld hoe 'rekenaar musiek sagteware' leersame onderrigtings geleenthede kan verskaf. Veral vir ons wat nie musiek kan lees nie is dit 'n geskenk duisend!! Laai die lied direk van die CD af, jy kan dan onmiddelik die volgende doen:

1. Verander die spoed, verminder sonder dat dit die sleutel affekteer.

2. Verander die sleutel sodat jy kan saamspeel met jou mondfluitjie of instrument wat in 'n spesifieke sleutel ingestel is.

3. Kies 'n gedeelte en "loop" dit sodat jy daardie spesefieke gedeelte oor en oor kan oefen totdat jy dit regkry.

4. Afhangende van die lied kan jy 'n backing track maak deur die vocal remover funksie (kakaoke) te gebruik.

5. Met die Equalizer kan jy die mondfluitjie gedeeltes op die lied beklemtoon.

6. En behalwe dat jy die koorde hiermee kan analiseer is daar baie ander funkies ook.

Vir iemand wat musiek wil skryf of transkribeer is dit 'n pryslose stukkie gereedskap . . . . ons vertrou dat jy dit ook 'n geheim sal hou.

Jy kan Transcribe HIER AFLAAI

Gaan kyk ook sommer na Riffstation, hierdie een gee vir jou die koorde van die liedjie op 'n tydlyn en kan ook die tempo en die sleutel verander met 'n hele box vol ander funksies of probeer sy gratis aanlyn weergawe hier: Riffstation Online.


Japie Goosen

Die mondfluitjie in Suid Afrika is 'n ongewaardeerde, verwaarloosde musiek instrument. Selfs gesoute en hoogs bekroonde musikante beskou dit nog steeds met minagting ten spyte van die feit dat die res van die wêreld dit al dekades gelede erkenning gegee. Dit het bydrae gelewer dat die Suid-Afrikaanse publiek onkundig geraak het en dit meestal as 'n kind se speelding beskou. Dit is vreeslik jammer dat ons so baie min spelers van gehalte het wat die lyding kan neem om hierdie sienswyse die nekslag toe te dien. As Suid Afrikaners net weer kan sien wat gedoen kan word met hierdie ernstige instrument.


Die mondfluitjie is 'n kompleks, ekspressiewe instrument, in staat om enige musiek genres te hanteer. Vir meeste is dit slegs 'n verwoording van die plesier en genot wat musiek aan hulle verskaf. Vir diegene soos Vincent van Rooyen, Larry Adler, Franz Schmel, Brendan Power en baie ander wat reeds virtuositeit bereik het, besef die ongelooflike potensiaal wat hierdie instrument kan vermag. Al hiedie meesters spandeer baie tyd en aandag om ander te help mondfluitjie speel, meeste van die tyd sonder enige vergoedding. 


Mondfluitjie in RSA is darm nog nie dood nie, die blues manne kook, maar die res van die genres smeul maar nog net. Hierdie blad is gestig om daardie smeulende pit weer aan die brand te blaas. In die twee en 'n halwe jaar vandat bekfluit.info gestig is het ons gegroei van 'n handjie vol besoekkers tot gemiddeld 2500 per week. Dit is bewys dat mondfluitjie 'n vastrapplek gekry het in RSA, en ek hoop ter harte dat dit van krag tot krag sal gaan, veral wat Volks-, Boere- en Afrikaanse musiek betref.

Alhoewel hierdie blad gemik is vir absolute beginners gaan ons stadig meer en meer TABS laai vir die kromatiese mondfluitjies. Tegnologie is ongelukkig so dat as jy nie volhou met al die opgraderings nie, jy vinnig agter gelaat word. Om mondfluitjie TABS te maak sonder om musiek te kan lees is vir my vreeslik moeilik, maar hopelik sal ek die nuwe sagteware binnekort baasraak, dan behoort dinge vinniger te vorder. Bladmusiek vir boeremusiek is ongelukkig so skaars soos hoendertande, daardie TABS sal ek nog met gehoor doen.

Ek het mondfluitjie bietjie laat in my lewe ernstig begin speel, so op 43 jarige ouderdom. Ek het gelukkig die voorreg gehad om Vincent van Rooyen verskeie kere te ontmoet en alhoewel oom Vinnie nie meer met ons is nie, is sy nalatenskap nog steeds 'n groot dryfkrag en aansporing vir my. Die bietjie tyd wat ek met hom spandeer het, het sy aansteeklike liefde vir die mondfluitjie my aangetas. Ek besef ek sal nooit so goed soos hy kan speel nie, maar kan darm probeer om daardie liefde vir die instrumentjie oor te dra aan ander. 

Nog 'n persoon wat my entosiasme kan aanwakker is oom Aad Daane met sy geweldige groot kennis van mondfluitjies, geskiedenis en dies meer. Hy word nog steeds beskou as een van die wêreld se beste bas en koord mondfluitjie spelers. As jy in die Wes Kaap woon sal jy baie baat vind om vir hom te gaan kuier daar in Gordons Baai, en hy sal dit ook baie waardeer. Terloops, hy gee ook mondfluitjie lesse.

Die mondfluitjie was maar net 'n mondfluitjie vir my, het gedink almal was dieselfde en het nie geweet daar is so baie verskillende 'tunings' nie . . . was eintlik bietjie bang vir die ding . . . totdat ek die kromatiese mondfluitjie ontdek het. Sommer van die begin af het kon ek maklike liedjies daarmee speel. Die blues mondfluitjie weer is baie beperk en deurmekaar, die tremelo het ook nie al die note nie, maar die kromatiese mondfluitjie het al die note van 'n oktaaf en meer. 

Die koord mondfluitjie is ook een van my gunsteling instrumente, dit is 'n ritme instrument en vreeslik maklik om te speel, nes 'n kitaar. Met die intrapslag kan jy saamspeel met omtrent enige musiek.

Hoop julle geniet en vind baat hier op bekfluit.info. Enige terugvoering wat gaan help om die lesse makliker te maak om te volg is baie welkom, so ook bydraes van enige mondfluitjie aard. Hier is ook heelwat skakels na mondfluitjie musiek en videos op hierdie blad.

Met watter tiepe mondfluitjie speel ek?

Identifiseer jou Mondfluitjie
Vir beginners kan die keuse van ‘n mondfluitjie baie verwarrend wees veral as jy kyk na die hoeveelheid verskillende tiepe mondfluitjies wat daar is. Mondfluitjies word in die algemeen geklasifiseer in drie tiepes; Diatonies, Tremolo en Kromaties, ten spyte van die feit dat daar nog ‘n horde ander tiepes ook is. Hierdie drie is die mees bekendste, word die meeste gespeel en word die meeste verkoop. Behalwe as jy ‘n uitstekende musikant is, sal jou keuse normaalweg op ‘n Diatoniese 10 gaatjie blues mondfluitjie uitloop, vir die eenvoudige feit dat dit die mondfluitjie is vir enige soort styl, insluitend country, blues, rock, gospel, folk en selfs klassieke musiek. Meeste professionele spelers is oorwegend diatoniese spelers.

Met watter tiepe mondfluitjie speel ek? - Sonder om in diep tegniese besonderhede in te gaan, so lyk die drie fluite:
DIATONIES - Standaard 10 Gaatjie diatoniese beskikbaar in 12 sleutels wat toelaat dat jy in ‘n hele 7-noot majoor skaal kan speel in die sleutel van die mondfluitjie. Zak van Niekerk het meestal met hom gespeel. ‘n Lekker bluesy klank.

TREMOLO - Hierdie fluite is diatonies ingestel, twee rye van 8, 10 of 12 pare dubbel gaatjies, elke paar met twee rietjies van dieselfde noot, een bietjie hoër ingestel as die ander, wat ‘n tremolo effek veroorsaak. Dit is ook die naaste klank wat jy aan ‘n konsertiena kan kry. Oom Hannes Buitendag het meestal met hom en die OKTAAF (die twee rietjies is ‘n hele oktaaf van mekaar gestel) fluite gespeel. Baie gewild in die volk musiek wêreld.

KROMATIES - Dis die fluit met die skuifknoppie aan die sy. Met hom kan jy in enige sleutel in enige skaal speel. Vincent van Rooyen het meestal met hom gespeel.

Sit die Bal aan die Rol

Dit het my baie, baie jare, dekades, geneem vandat ek die mondfluitjie vir die eerste keer probeer het, om dit uiteindelik ernstig aan te pak, ten spyte van die feit dat dit een van die dinge was wat ek vreeslik baie graag wou bemeester. Ek het vir myself gesê: môre sal ek begin, en ‘môre’ het verander in ‘volgende week’ en ‘volgende week’ in ‘volgende maand’ en die ‘maand’ in ‘jare’ en die ‘jare’ in ‘dekades’. 

As ek nou terugkyk, met spyt, na al daardie jare wat ek gemors het, dan besef ek die skuld moet by die deur van prokrastinasie gelê word. As ek vir myself ‘n tydsbeperking of sperdatum opgelê het dan was die taak dekades gelede reeds verrig. En was dit nie vir ‘n wekroep in die vorm van ‘n ernstige hartkwaal nie dan sou ek seker nooit wakker geskrik het nie. Prokrastinasie neem die ‘werklikheid’ en verander dit uiteindelik in ‘fantasie’.
Ek weet, sonder twyfel, dat daar baie van julle is wat besig is om in my paadjie te loop. Jy wil so vreeslik graag die baas wees van die mondfluitjie, jy wil speel soos Vincent van Rooyen of Zak van Niekerk, of jy kan reeds goed speel en wil so graag ‘n liedjie opneem, miskien vir die kompetisie, . . . . maar stel die werk en oefening vinnig uit want die taak staan groot, soos ‘n berg, voor jou. 

My eerste stap was makliker as wat ek gedink het, ek het opgehou droom en die fluit in my mond gesteek en begin oefen. Wys vir jouself jy kan ‘n begin maak, en moet nie vir jouself jy kan dit doen nie. Breek die berg op in klein stukkies, trappies wat jy een vir een maklik kan klim. As dit ‘n liedjie is, breek dit op in versies, in klein stukkies en oefen elk todat jy dit baasraak, sit dit dan terug in groter dele en oefen totdat jy die hele lied kan speel. 

As dit ‘n opname is wat jy wil maak, doen dit eers op jou selfoon, maak nie saak hoe sleg dit klink nie, doen dit oor en oor todat jy ‘n redelike opname het. Speel eers stadig, half spoed en gradeer opwaarts totdat jy tevrede is daarmee . . . maak dan ‘n goeie opname op jou rekenaar met Audacity of ander sagteware en pos dit op die internet, mense sal nie weet jy speel mondfluitjie nie tensy jy vir hulle wys jy kan. 

En baie belangrik, stel vir jouself ‘n tydsbeperking vir elke stap, maak dit maklik genoeg sodat jy dit kan bereik. As jy wil klink soos Vincent van Rooyen of Zak van Niekerk, dan moet jy ook dieselfde inspanning insit soos hulle dit gedoen het. Oom Vincent het geoefen soos ‘n masjien, elke lied was oor en oor gespeel todat hy tevrede was. Hy het gesê jy moet ‘n liedjie ten minste 50 keer speel voordat jy dit vir ander speel.

Die grootste pret wat ek ooit uit die mondfluitjie gekry het was wanneer ek ‘n liedjie bemeester het. Daar is geen groter bevrediging as die genot wat jy in jou luisteraars se gesigte sien nie.

Hoe Moet Ek Opwarm?

Enige volwaardige atleet besef hoe noodsaaklik dit is om op te warm voor enige oefening of wedloop om die beste uit hulle liggaam te kry en om beserings te voorkom. 

Dieselfde geld vir die mondfluitjie speler, nie dat ernsitge beserings verwag word nie, maar om die speler reg te kry vir wat voorlê. Die doel van opwarming is om die liggaam en die mondfluitjie gereed te kry vir werk. Dit help met die bloed vloei, maak die litte los, verhoog die liggaams en die mondfluitjie na werks temperatuur en vul die longe met vars suurstof. Maak jou longe vol suurstof, haal diep asem. . . soos jy maak voor jy met jou skoonma op die telefoon praat . . . en blaas dan alles uit. Dit maak die lugkanale oop en strek die spiere wat die longe beheer.

Opwarming vir jou mondfluitjie is ook net so belangrik. Baie dele van die mondfluitjie is gemaak uit metaal. As jy skielik net begin blaas en suig op 'n koue fluit, terwyl die metaal nog koud is, gaan dit 'n kort lewensduur hê, veral die dun rietjies wat al die werk moet doen. Hou die mondfluitjie in jou hande, steek dit in jou broeksak of onder jou arm om dit warm te maak voordat jy daarop speel. Kromatiese mondfluitjie spelers besef dit maar al te goed, 'n koue fluit en warm asem veroorsaak kondensasie wat veroorsaak dat die kleppe vassteek.

Speel eers saggies op jou fluit, blaas die oktaaf skaal of speel al die blaas en suig note van onder tot bo en terug herhaaldelik. 

Hier is twee voorbeelde van 'n opwarmings oefen routine:


Luister hier in C:

4B 4S 5B 5S 6B 6S 7S 7B 7S 6S 6B 5S 5B 4S 4B


 




Luister hier in C:

4B 4S 5B 4S 5B 5S 5B 5S 6B 5S 6B 6S 6B 6S
7S 6S 7S 7B 7S 7B 8S 7B

7B 7S 6S 7S 6S 6B 6S 6B 5S 6B 5S 5B 5S 5B 
4S 5B 4S 4B 3S 4B 4S 4B

 

Willem Heydenrych



Musiekmakers hou Makietie



Die Thabazimbi Bosveldorkes van ouds het na ‘n dekade weer reünie gehou. Op die foto van links na regs is Hans Stolz beter bekend as Hans Kitaar. In die middel Willem Heydenrych op mondfluitjie en konsertina, regs is Paul Dreyer ook op kitaar en agter die dromme Amanda Rossow. 

Die Thabazimbi Bosveldorkes kuier weer saam en hou reünie na ‘n dekade. Die groepie musikante was alom bekend in Thabazimbi en omgewing waar hul grootliks vir liefdadigheid opgetree het. 

Die groep was bekend vir hulle optredes by Setaria Rec-Klub, Van Wykskraal Laerskool, Blinkwaterlodge en sommer enige iemand wat ‘n lekker boere verjaardag gevier het. Soos die jare aangestap het, het van die lede verhuis, ander het hulle weer by orkeste aangesluit. Hulle klanke kon elke Saterdagaand gehoor word soos hulle sosiaal saam gekuier en gespeel het.

Ons taal en musiek help met mondfluitjie speel

Klassieke mondfluitjie spelers spandeer ure om twee baie belangrike aspekte van musiek te bemeester, Staccato en Lagato. (kliek op die woorde vir Youtube verduidelikings)


Staccato
As Afrikaans sprekendes is ons bevoordeel met 'n tong wat al reeds gewoond is aan die staccato klank in die uitspraak van die letter "r". Kyk maar hoe sukkel die ander tale om die woord ''lekkerrrr'' na te maak!! Zak van Niekerk se mondfluitjie styl is 'n pragtige voorbeeld van staccato. LUISTER HIER - Ons boeremusiek maak ook heelwat gebruik hiervan veral as jy luister na die banjo spelers se 'triplets' Gaan probeer gerus Zak se liedjies namaak op Youtube, dit sal jou musiek heelwat smaakliker maak.


Lagato

Wat is nou mooier as 'n lekker stukkie lagato in 'n liedjie, luister hoe mooi doen ons konsertina en trekklavier spelers dit. Vincent van Rooyen se Wynland Setties is 'n goeie voorbeeld van hoe mens dit doen op die mondfluitjie. Onthou ook dat hy dit hier op kromatiese mondfluitjie speel. LUISTER HIER (dit begin eers so om en by 28 secondes) Hierdie is miskien 'n bietjie moeiliker as staccato maar met 'n bietjie meer aandag en oefening sal jy dit regkry. - Wynland midi - Wynland notasie


Onthou, wakker daai entosiasme aan deur die moeilike gedeeltes van 'n liedjie eerste te oefen en sluit dan af met die maklike gedeeltes wat lekker is om te speel. Onthou die drie dinge wat in jou pad staan om 'n suksesvolle mondfluitjie speler te word: 

1. Ingebore negatiewe houding teenoor die mondfluitjie (musiek spesialiste beskou dit nog steeds met vermaaklike minagting, dis net 'n speelding, asof dit nie 'n volwaardige musiek instrument is nie)

2. Oefen tyd (gereelde daaglikse oefen periodes - hoe meer hoe beter, maar hou dit kort en kragtig) Maak opnames van spel en luister weer daarna na 'n maand se oefening om te sien of jy verbeter het, veral in die gebied van 'gevoel'.

3. Energie en inspanning wat ons uitoefen om struikel-blokke te oorkom. Dis maklik om entosiasme te verloor na lang oefen sessies veral as jy moeilike liedjies probeer bemeester. Oefen is harde werk, as ons altyd net oefen wanneer dit pret is dan sal ons potensiaal gestrem word. Speel ook jou lekker maklike liedjies vir mense en hou dit kort en kragtig, dit sal jou selfvertroue versterk en, veral as jy soos ek is, om daardie verlammende vrees vir 'n gehoor te oorwin.

Vincent vertel - Argief

'Mondfluitjie' Van Rooyen maak CD

NADAT hy jare gelede 'n reeks bloutjies met platemaatskappye geloop het, het Vincent van Rooyen besluit: nooit weer nie. ''Ek het my laaste plaat in 1975 gemaak,'' vertel dié leier van Suid-Afrika se bekendste mondfluitjie-trio, ''en ek was vasbeslote om myself nie weer vir so iets in te laat nie. 

Maar toe word ek sestig en my ou vriend, Hendrik Swanepoel, kondig aan hy weet nie eintlik wat om vir my te gee nie, maar hy't gedink miskien moet hy my help om 'n CD te maak. Toe dag ek: 'Ag wel, ek kan seker net sowel 'n CD maak voor ek doodgaan'. Ons het Swannie in 'n baie kort tyd opgeneem.'' Nog 'n vriend, Anton Goosen, het die produksie gedoen, en Jannie du Toit se NJS-Musiek het gesorg dat dit op laserskyf verewig word. Vincent sê Swannie is op die populêre mark gerig. ''Ons klank is uniek. Daar is niks soortgelyks in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die individuele liedjies is egter eenvoudig genoeg vir enige mondfluitjie- geesdriftige om saam te speel.'' 

Vincent geniet self ernstige musiek egter meer. En tog het hy niks van die onderwerp geweet tot kort ná sy twintigste verjaardag nie. ''Ek was 'n skrynwerker. Ek was op pad huis toe en ek het sewe sjiellings en ses pennies in my sak gehad. Langs die pad is ek by 'n apteek verby, en in daardie dae het apteke mondfluitjies aangehou. Op die ingewing van die oomblik het ek besluit om een te koop. Toe stap ek huis toe en tuis speel ek vir my ma Drink to me only. Dit het my sewe minute geneem om te leer speel. Of liewer, om 'Drink to me only' te leer speel.'' Vincent het dadelik die potensiaal van sy instrument raakgesien en besluit dis tyd vir formele musieklesse. ''Maar drie onderwysers in 'n ry het gesê: 'Nee man, kry vir jou 'n ordent like instrument, soos 'n klavier'. Toe leer ek maar myself.'' 

Vincent was gou versot op sy mondfluitjie, en kort voor lank het hy elke aand ná werk tot middernag geoefen. Binne drie jaar het hy uitvoerings begin gee, en uiteindelik het hy saam met die Johannesburgse en Kaapstadse simfonie-orkeste opgetree. Negentien jaar gelede het hy 'n mondfluitjie-trio saam met die Hopper-broers begin, en hulle is vandag nog bymekaar. In 1987 is die groep genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig by die wêreld-mondfluitjiewedstryd, waar hulle derde geëindig het. Twee jaar later was hulle tweede. Die volgende wedstryd is oor drie weke. Gaan hulle hierdie keer wen? ''Ag nee, ons het nie geld om te gaan nie. Ons kan nie borgskappe kry nie en die Regering is bankrot,'' sê Vincent. 

Ondanks sy liefde vir sy instrument, en sy onteenseglike sukses, het Vincent se musiek wat gou ook komposisie ingesluit het altyd 'n stokperdjie gebly. Ná verdere studie het hy uiteindelik in die fotografiebedryf geland, maar nadat die maatskappy waarvoor hy gewerk het sowat drie jaar gelede gesluit is, is hy nou ''amptelik 'n werklose armblanke''. Werkloos of te nie, hy werk aan sy volgende laserskyf. ''Dit gaan ernstiger wees, met 'n sterk klassieke inslag.''

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen



Mondfluitjie-koning gaan Bloemfontein betower - Argief



Magdel Fourie

DIE kort, klein gryskop man knyp sy oë toe, klem sy hande om sy goudkleurige mondfluitjie vas en blaas. En eensklaps, soos die mitiese Fluitspeler van Hamelin, vul hy die vertrek met betowerende, sielvolle musieknote.

Vincent van Rooyen, wêreldbekende mondfluitjiespeler, het ’n ongelooflike passie vir wat hy doen. Hy speel dié musiek in vriende se huis in Bloemfontein net twee uur nadat hy bestraling ontvang het vir die gevorderde prostaatkanker waarmee hy tien jaar gelede gediagnoseer is. 

“Ek het sommer verlede week vir die personeel in die hospitaal ’n gratis konsert gehou. Nou behandel hulle my soos ’n ‘VIP’” lag hy. Van Rooyen, nou 74 jaar oud, het homself op 20-jarige ouderdom leer mondfluitjie speel, en staan nou aan die einde van ’n baie suksesvolle loopbaan waarin hy internasionale bekendheid verwerf het. Hy het in 1987 aan die internasionale mondfluitjie-kampioenskap deelgeneem en ’n derde plek behaal. Twee jaar later het hy wéér deelgeneem, en tweede gekom. “Toe ek die eerste keer op die kampioenskappe speel, kon die mense nie glo wat hulle hoor nie. Omdat ek myself leer speel het, het ek my eie styl en eie klanke ontwikkel wat nog nooit voorheen gehoor is nie,” vertel hy.

Nóú reël sy jare lange vriendin, me. Karien Jordaan van Bloemfontein wat hom op die wêreldkampioenskap met klavier begelei het, vir hom ’n welwillendheidskonsert wat op 14 Maart in die Odeion in Bloemfontein gehou word. Verskeie bekende kunstenaars saam met wie hy oor die jare gewerk het, het ingestem om op dié aand op te tree. “Ek kan dit amper nie glo nie, dit is wonderlik. Al is dit my laaste konsert, sál ek ook daardie aand speel,” glimlag hy.

Dié uiters begaafde musikant het al sowat 16 langspeelplate opgeneem, twee CD’s gesny, tydens talle radio- en televisie-uitsendings gespeel en telkemale as solis saam met die Kaapstadse en Johannesburgse simfonie-orkes opgetree, asook sy eie konserte gehou. Hy het ook ’n wêreldbekende mondfluitjie-trio saam met die broers Jonathan en Paul Hopper gevorm. Daarby het Van Rooyen ook sy eie musiek gekomponeer wat van ligte boeremusiek tot klassieke musiek strek. Van Rooyen is in Parow in die Kaap gebore, het lank in Bellville gebly, en bly nou saam met sy vrou, Annie, op Kroonstad.

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen







Leer jou les mannetjie!!!

Die idee dat 'n "gebore genie" slimmer en meer in staat is as die res van ons gewone sterflinge, is onsagwekkend beweer Robert Greene, skrywer van die gewilde The 48 Laws of Power (Penguin, 2000). Die bekoring wat ons in hierdie sogenaamde wondermense sien, sê hy, is "vals. Dit is heeltemal onwaar." Uitsonderlike talent word alleenlik verkry deur harde werk.

Greene het die lewens van uitsonderlike suksesvolle mense bestudeer vir sy boek Mastery (Viking/Penguin, 2012) en tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie so iets soos ''ingebore superieur intelligensie'' is nie. Die wat bo die res in hulle spesifieke veld presteer, die bereiking van wat hy noem 'n "hoë-vlak instinktiewe gevoel vir hul spesialiteit'', het 'n onwrikbare fokus en werksetiket.

Dit is nie 'n kwessie van een of ander talent of intelligensie wat jy het nie, maar wat jy bereik het deur ondervinding en harde werk. ''Ons moet onslae raak van daardie ouderwetse geloof van ingebore talent en intelligensie''.

Die' wat vir Vincent van Rooyen geken het sal weet hoe baie hard hy gewerk het aan sy musiek, gedurig besig om nuwe maniere en moontlike paaie na meesterskap te bereik. Nie vir een oomblik het hy geglo dat hy uiteindelik die meerster van die mondfluitjie was nie. Inteendeel, hy was eerlik met sy tekortkominge, selfs met sy baie jare van ondervinding het hy gedroom dat hy eendag ''baas'' wil wees van die mondfluitjie. Vandag word hy beskou as die beste mondfluitjie speler wat Suid Afrika nog ooit gelewer het en een van die bestes in die mondfluitjie wêreld.

Daar is geen twyfel dat, met harde werk, daar potensiele ''Vincent van Rooyen's'' en ''Zak van Niekerk's'' is, wat hard aan die werk is om die mondfluitjie te bemeester nie. Dit sal wonderlik wees om weer 'n mondfluitjie herlewing te sien in Suid Afrika soos in toeka se dae.

Anton Goosen gesels oor Vincent


Anton Goosen gesels oor Vincent van Rooyen
 



Ek het Vincent van Rooyen ook geken – en baie van hom gehou. Hy was ‘n goeie mens. En ‘n uitstekende uitvoerende kunstenaar. ‘n Meester van sy instrument.

Ek het hom by Hendrik Swanepoel ontmoet. Hendrik het hom “Uncle” genoem en gevoel dat Vincent verdien om ‘n eie eerste CD op die kommersiële mark te hê. Dit was ‘n verjaardaggeskenk vir Vincent. Dus het hy my gevra of ons nie ‘n verjaardagpresent vir Vincent kan maak nie. Vir die groter saak. Vincent het op Gansbaailapa kom inloer sodat ons die produksie kon bespreek. Hy was baie verras dat ek gedog het hy gaan dalk moeilik wees om mee saam te werk. Hy was allesbehalwe moeilik. Professioneel eerder. In elke opsig.

Ek het Downtown Studios vir die produksie bespreek. Destyds het hulle die modernste en beste tegniese opname-fasiliteite gebied. Hy en sy trio (Paul en Jonathan Hopper, was inge-“rehearse”. Totaal voorbereid. Die opname-ingenieur, Darryl Heilbraum, kon nie glo wat hy hoor nie. Net drie mondfluitjies: ‘n chromatiese mondfluitjie wat die tune speel (Vincent) ‘n ritme-mondfluitjie wat akkoorde speel soos op ‘n ghitaar, en die bas-mondfluitjie.

Ek het nie geweet dis moontlik om ‘n CD-album in DRIE dae op te neem en te meng nie, want gewoonlik neem dit tot drie weke en langer. Dit was amazing hoe die trio ingeoefen was. Nie net vir die CD-opname nie, maar as musikante wat jare lank mekaar ken – musikaal ken.

Hendrik het ‘n hele klomp eksemplare van Swanee laat druk in Taiwan en later jare het Vincent ‘n klomp van hulle vir JNS Musiek gegee om te versprei. Vincent se verrassing was nogal groot toe hy ‘n rekening van laasgenoemde kry ipv tantieme. Dit klink raar; veral omdat alle onkostes reeds deur Hendrik betaal was – die bookies ingesluit. (Hoe kan die boekies uit stock wees as die volledige produk verskaf was????)

‘n Jaar gelede het ek en Hugo en Johrne van ddisselblom en Hendrik afgesit Bloemfontein toe om ‘n huldigingskonsert/fondsinsameling vir Vincent te doen. Want hy het kanker gehad. Sy dogter, Vanessa, het ook die aand gesing en sy seun, Vance, doen dikwels klank vir ons in die Kaap.

Vincent het reeds geweet dat hy ‘n afspraak het met die Groot Stilte. Sy vrou is onverwags net voor dit oorlede. Hy het sy mondfluijtie daardie aand puik gespeel. En in die kleedkamer vir my ‘n joint aangebied. Ek kon my oë nie glo nie en net gelag. Maar, dit is glo goed vir kankerpasiënte.

Ons het eenkeer saam op ‘n luukse jag beland in Gordonsbaai. Die gasheer was in ‘n hofgeding en die advokaat teen die gasheer het mondfluitjielesse by Vincent geneem. Dus beland hy ook by die party so by die agterdeur in as groupie van die Vincent van Rooyen-trio wat musiek moes kom maak vir die partytjie op die jag.

Drank en nag bring kennis, het Andre P Brink, geskryf. En dis waar. Want die advokaat is toe ‘n ongure mannetjie. Een wat jou verkeerd opvryf. En na die hoeveelste quip van sy kant af, vra hy nav my reaksie: “What is your problem with me”?

En nou is die 600 woorde amper op en sal julle hier verder moet lees …

Anton Goosen

https://af.wikipedia.org/wiki/Vincent_van_rooyen




Hoeveel mondfluitjies het ek nodig?

Nie alle mondfluitjies is dieselfde nie, dit kan jy sommer met die oogopslag sien in die konstruksie van die instrument. As jy graag met alle musiek wil saam speel, dan is dit belangrik om van die begin af te weet wat die verskillende mondfluitjies vir jou kan doen. Hier is 'n illustrasie wat dit verduidelik, gebaseer op die 10 gaatjie fluite. Onthou, alhoewel jy die blues mondfluitjie se note kan buig om die ontbrekende note te kry, kan dit 'n moeilike tegniek wees om te bemeester, veral vir beginners. 

Johan van Zyl


Ten einde te verhoed dat dié ou tradisie (boeremusiek) dalk uitsterf en om belangstelling onder jonger mense daarvoor aan te wakker, is ’n boeremusiekklub in Oktober 2011 in Windhoek gestig. Die president van die klub, die vonk wat gelei het tot die stigting daarvan, Johan van Zyl van Windhoek, is ook ’n kranige multi-musiek-instrument speler, ’n gesoute musikant, 'n dryfkrag en stutpilaar agter die herlewing van boeremusiek in Namibie.  Nog ’n merkwaardige prestasie is die feit dat Johan deur die adjunk­minister tot lid van die NACN van Namibië benoem is. Mnr. Pohamba Shifeta, Adjunkminister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, het die benoeming by navraag bevestig.  "Dit is vir my en lede van die klub 'n besonderse voorreg," het Van Zyl oor sy benoeming gesê. "Vir ons kultuurmusiek is dit 'n mylpaal om op nasionale vlak raakgesien en erken te word . . . Ek wil ook met ’n breë bors aankondig dat die Boeremusiekklub Namibië reeds in elf wêreldlande bekend is en ook ’n groeiende aantal Facebook-lede het. - Republikein

Johan kom uit 'n musikale familie en het selfs saxophone op skool probeer speel en behalwe bogenoemde prestasies en ander talente, restoreer en herstel hy ook musiek instrumente.

Johan het die wonderlike vermoe om dinge op 'n baie mooi manier oor te dra, hy gesels so oor sy mondfluitjie ondervinding;   "'n Baie dierbare vriend vra vandag dat ek en broer 'n ietsie moet skryf oor ons bekfluit opgroei en leer proses... wat my toe tref is dat die bietjie blasery word deur ander geniet en as mondfluitjie speel geag word . . . Ek was omtrent nege jaar oud toe ek op my pa se Hohner begin blaas het. Sal nooit vergeet nie; die eerste wysie wat baie maklik gekom het was Stille Nag. Toe ons vir twee jaar weermag toe is, het ek en Thys (my tweeling broer) in die aande in die bed na die ligte, lampe, kerse uit is, sommer Afrikaanse en Engelse volkswysies gespeel . . . met 'n regulation band bekfluit, wat ons om die beurt geblaas het, suikerbossie, my hartjie my liefie, of sommer harmonics wanneer die reptoire depleted was . . . .
Die hele kamp op Oshivelo het altyd geluister. Indien ons die aand nie speel nie het die manne uit die ander tente ge-moan . . . dan hoor jy skielik in die nag stilte uit 'n ander tent....VAN ZYL!!!!!... speel iets man!!!.... wat my nou tref is dat dit miskien slaap lullabies was vir party manne. ..ander se verlange is dalk bietjie gestil....miskien het iemand se stil trane oor iets opgedroog.....gelukkig was daar twee van Zyltjies om die drie maande om te blaas.....ek wonder of die ouens ooit agtergekom het watter blaser het wanneer geblaas. niemand het ooit dankie gesê nie, want mens praat nie oor donker tyd se eensaamheid in die dag lig nie.....die tweeling se regulation band was die eiendom van D-Eskadron se nag lewe en wie sê dan dankie vir dit wat aan almal behoort . . . . Na die weermag het ek altyd ‘n fluit gehad maar nie gespeel nie.

Die laaste vyf jaar het ek so hier en daar gespeel maar het dit nooit ontwikkel soos Thys nie. Ek gooi maar eerder banjo en kitaar. Weet jy . .  ek het my fluit spelery eintlik verwaarloos. Ek sal maar weer die fluit optel en myself begin vermaak. Ek het ‘n baie sleg gewoonte om te veel goed tegelyk te wil leer. Bv. Ek oefen konsertina, boere konsertina, knoppies akkordion, trekklavier, kitaar, banjo, mondfluit, pennywhistle, bas kitaar en soms klawerbord. Verstaan jy my probleem. Hehehe (of liewer my siekte en uit almal kry ek ‘n paar wysies)…..het op skool sax ook probeer..verbeel jou.".  --Johan van Zyl

Luister hier na Johan se mondflutjie liedjies.




RSA Mondfluitjie Spelers Argief

Loggie van Loggerenberg


Roodepoort se passievolle mondfluitjie speler


“Ek sal mense laat huil met my manier van mondfluitjie speel” – Loggie. - LookLocal 21 November 2012 | Clinton Botha

Elke man het sy passie en Loggie van Loggerenberg ‘n inwoner van die area s’n is mondfluitjie speel.

Nou is Loggie vasbeslote om sy ondersteuners te laat weet hy bestaan nog en bereid om by kerke, skole of partytjies te speel vir ‘n ekstra geldjie. “Mondfluitjie is baie naby my hart en ons kom al ‘n lang pad,” het Loggie aan die Northsider vertel. Inderdaad. Loggie speel al mondfluitjie – ‘n instrument wat miskien nie een van die mees bekende instrumente onder die nuwe jeug sal wees nie – sedert die ouderdom van sewe.

“Mens kan mos nie als net weggooi nie en ek sal mondfluitjie speel solank as wat ek kan – Dit het my juis gemotiveer om nie op te hou nie en weer te begin speel.” Loggie se liefde vir dié instrument het als begin toe hy terug oppad is huis toe as 'n sewejarige seun was. “Dit was na ‘n fliek by die bioscope waar ek ‘n mondfluitjie in die straat sien lê het. Ek het dit opgetel en begin blaas. Ek was verskriklik mal oor die geluid wat uitgekom het. Sedert dien het ek elke dag op die instrument aanhou poer-poer.” 

Die mondfluitjie-gogga het vir Loggie gebyt en so erg dat Loggie vir 50 jaar aanhou speel het. “Ek is een van die beste in die land,” het Loggie met selfvertroue gesê. “Ek het ‘n unieke styl wat my anders as meeste mondfluitjiespelers maak. Ek sal baie mense laat huil met my manier van mondfluitjie speel.” 

Indien jy van Loggie se mondfluitjie talent gebruik wil maak, skakel hom op 073 235 1728 of 011 679 1966.

Behalwe mondfluitjie speel is Loggie ook ‘n prominente baskitaarspeler. Hy en sy broer het op ‘n jong ouderdom ‘n orkes van vier met die naam Dixie Rebels begin. Na een jaar het die groep opgebreek waar die fantastiese Glen Dickson and the Shufflers gevorm is. Dinge met die groep wat vir vier jaar saam gespeel het toe ook nie uitgewerk nie en uiteindelik ook opgebreek.

http://www.looklocal.co.za/looklocal/content/en/roodepoort-northside/roodepoort-northside-news-general?oid=6535846&sn=Detail&pid=4730258&Roodepoort-se-passievolle-mondfluitjie-speler

Wat is fout met my mondfluitjie?

Wanneer jy kyk hoe die pryse van mondfluitjies met 'n kommerwekkende tempo styg, sou mens verwag dat die kwaliteit en vakmanskap hand aan hand saam die hoogte inskiet. Alhoewel daar onlangs ongelooflike deurbrake gemaak is in die ontwikkeling van nuwe tegnologie vir die mondfluitjie, is daar nog steeds heelwat ernstige tekortkominge wat vir een of ander rede deur die vervaardigers misgekyk word. Kyk bietjie na die volgende:


1. In vergelyking met ander instrumente, het die mondfluitjie 'n baie lae volume, probeer maar saam met 'n konsertina of trekklavier speel. Dit help ook nie om harder te blaas nie want die rietjies verstik of breek met die probeerslag.

2. Probeer 'n legato frasering, waar jy van 'n hoë na lae noot en terug moet beweeg sonder rus tussenin. Maklik op ander instrumente, soos die klavier, maar feitlik onmoontlik op die mondfluitjie.

3. Nog 'n aspek waar selfs die beste spelers probleme vind aangaande intonasie en artikulasie, is die gebrek aan kromatiese note op die diatoniese mondfluitjies. Met die ongelooflike moderne tegnologie moet daar tog iewers 'n oplossing wees sonder om die ekspressiewe warm ''bluesy'' toon te verander. Selfs die gebuig van note om die ontbrekende note te vind is beperk, moeilik en selfs onmoontlik vir party spelers.

4. Die oplossing vir die gebrek aan kromatiese note was natuurlik die tremelo en oktaaf mondfluitjies maar onmiddelik het jy die buig note verloor wat die ''bluesy'' klank van die mondfluitjie so uniek maak.

5. Die volle kromatiese mondfluitjie, met die skuifknoppie, is 'n swak alternatiewe oplossing vir die gebrek aan kromatiese note. Aloewel die wind kleppe (wat gereeld vassteek) verhoed dat die note gebuig kan word is die skuif-meganisme van nature baie winderig en 'n moeilike instrument om te speel in meeste van die 12 sleutels. Die klank het ook 'n gebrek aan warmte in vergelyking met die diatoniese mondfluitjies.

Hierdie is maar net 'n paar tekortkominge van die moderne mondfluitjie, wat natuurlik ook 'n goeie ding is, want waar daar probleme is word daar gestrewe na oplossings. Wie weet wat die toekoms inhou vir die mondfluitjie.