Japie Goosen

Die mondfluitjie in Suid Afrika is 'n ongewaardeerde, verwaarloosde musiek instrument. Selfs gesoute en hoogs bekroonde musikante beskou dit nog steeds met minagting ten spyte van die feit dat die res van die wêreld dit al dekades gelede erkenning gegee. Dit het bydrae gelewer dat die Suid-Afrikaanse publiek onkundig geraak het en dit meestal as 'n kind se speelding beskou. Dit is vreeslik jammer dat ons so baie min spelers van gehalte het wat die lyding kan neem om hierdie sienswyse die nekslag toe te dien. As Suid Afrikaners net weer kan sien wat gedoen kan word met hierdie ernstige instrument.


Die mondfluitjie is 'n kompleks, ekspressiewe instrument, in staat om enige musiek genres te hanteer. Vir meeste is dit slegs 'n verwoording van die plesier en genot wat musiek aan hulle verskaf. Vir diegene soos Vincent van Rooyen, Larry Adler, Franz Schmel, Brendan Power en baie ander wat reeds virtuositeit bereik het, besef die ongelooflike potensiaal wat hierdie instrument kan vermag. Al hiedie meesters spandeer baie tyd en aandag om ander te help mondfluitjie speel, meeste van die tyd sonder enige vergoedding. 


Mondfluitjie in RSA is darm nog nie dood nie, die blues manne kook, maar die res van die genres smeul maar nog net. Hierdie blad is gestig om daardie smeulende pit weer aan die brand te blaas. In die twee en 'n halwe jaar vandat bekfluit.info gestig is het ons gegroei van 'n handjie vol besoekkers tot gemiddeld 2500 per week. Dit is bewys dat mondfluitjie 'n vastrapplek gekry het in RSA, en ek hoop ter harte dat dit van krag tot krag sal gaan, veral wat Volks-, Boere- en Afrikaanse musiek betref.

Alhoewel hierdie blad gemik is vir absolute beginners gaan ons stadig meer en meer TABS laai vir die kromatiese mondfluitjies. Tegnologie is ongelukkig so dat as jy nie volhou met al die opgraderings nie, jy vinnig agter gelaat word. Om mondfluitjie TABS te maak sonder om musiek te kan lees is vir my vreeslik moeilik, maar hopelik sal ek die nuwe sagteware binnekort baasraak, dan behoort dinge vinniger te vorder. Bladmusiek vir boeremusiek is ongelukkig so skaars soos hoendertande, daardie TABS sal ek nog met gehoor doen.

Ek het mondfluitjie bietjie laat in my lewe ernstig begin speel, so op 43 jarige ouderdom. Ek het gelukkig die voorreg gehad om Vincent van Rooyen verskeie kere te ontmoet en alhoewel oom Vinnie nie meer met ons is nie, is sy nalatenskap nog steeds 'n groot dryfkrag en aansporing vir my. Die bietjie tyd wat ek met hom spandeer het, het sy aansteeklike liefde vir die mondfluitjie my aangetas. Ek besef ek sal nooit so goed soos hy kan speel nie, maar kan darm probeer om daardie liefde vir die instrumentjie oor te dra aan ander. 

Nog 'n persoon wat my entosiasme kan aanwakker is oom Aad Daane met sy geweldige groot kennis van mondfluitjies, geskiedenis en dies meer. Hy word nog steeds beskou as een van die wêreld se beste bas en koord mondfluitjie spelers. As jy in die Wes Kaap woon sal jy baie baat vind om vir hom te gaan kuier daar in Gordons Baai, en hy sal dit ook baie waardeer. Terloops, hy gee ook mondfluitjie lesse.

Die mondfluitjie was maar net 'n mondfluitjie vir my, het gedink almal was dieselfde en het nie geweet daar is so baie verskillende 'tunings' nie . . . was eintlik bietjie bang vir die ding . . . totdat ek die kromatiese mondfluitjie ontdek het. Sommer van die begin af het kon ek maklike liedjies daarmee speel. Die blues mondfluitjie weer is baie beperk en deurmekaar, die tremelo het ook nie al die note nie, maar die kromatiese mondfluitjie het al die note van 'n oktaaf en meer. 

Die koord mondfluitjie is ook een van my gunsteling instrumente, dit is 'n ritme instrument en vreeslik maklik om te speel, nes 'n kitaar. Met die intrapslag kan jy saamspeel met omtrent enige musiek.

Hoop julle geniet en vind baat hier op bekfluit.info. Enige terugvoering wat gaan help om die lesse makliker te maak om te volg is baie welkom, so ook bydraes van enige mondfluitjie aard. Hier is ook heelwat skakels na mondfluitjie musiek en videos op hierdie blad.