Johan van Zyl


Ten einde te verhoed dat dié ou tradisie (boeremusiek) dalk uitsterf en om belangstelling onder jonger mense daarvoor aan te wakker, is ’n boeremusiekklub in Oktober 2011 in Windhoek gestig. Die president van die klub, die vonk wat gelei het tot die stigting daarvan, Johan van Zyl van Windhoek, is ook ’n kranige multi-musiek-instrument speler, ’n gesoute musikant, 'n dryfkrag en stutpilaar agter die herlewing van boeremusiek in Namibie.  Nog ’n merkwaardige prestasie is die feit dat Johan deur die adjunk­minister tot lid van die NACN van Namibië benoem is. Mnr. Pohamba Shifeta, Adjunkminister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, het die benoeming by navraag bevestig.  "Dit is vir my en lede van die klub 'n besonderse voorreg," het Van Zyl oor sy benoeming gesê. "Vir ons kultuurmusiek is dit 'n mylpaal om op nasionale vlak raakgesien en erken te word . . . Ek wil ook met ’n breë bors aankondig dat die Boeremusiekklub Namibië reeds in elf wêreldlande bekend is en ook ’n groeiende aantal Facebook-lede het. - Republikein

Johan kom uit 'n musikale familie en het selfs saxophone op skool probeer speel en behalwe bogenoemde prestasies en ander talente, restoreer en herstel hy ook musiek instrumente.

Johan het die wonderlike vermoe om dinge op 'n baie mooi manier oor te dra, hy gesels so oor sy mondfluitjie ondervinding;   "'n Baie dierbare vriend vra vandag dat ek en broer 'n ietsie moet skryf oor ons bekfluit opgroei en leer proses... wat my toe tref is dat die bietjie blasery word deur ander geniet en as mondfluitjie speel geag word . . . Ek was omtrent nege jaar oud toe ek op my pa se Hohner begin blaas het. Sal nooit vergeet nie; die eerste wysie wat baie maklik gekom het was Stille Nag. Toe ons vir twee jaar weermag toe is, het ek en Thys (my tweeling broer) in die aande in die bed na die ligte, lampe, kerse uit is, sommer Afrikaanse en Engelse volkswysies gespeel . . . met 'n regulation band bekfluit, wat ons om die beurt geblaas het, suikerbossie, my hartjie my liefie, of sommer harmonics wanneer die reptoire depleted was . . . .
Die hele kamp op Oshivelo het altyd geluister. Indien ons die aand nie speel nie het die manne uit die ander tente ge-moan . . . dan hoor jy skielik in die nag stilte uit 'n ander tent....VAN ZYL!!!!!... speel iets man!!!.... wat my nou tref is dat dit miskien slaap lullabies was vir party manne. ..ander se verlange is dalk bietjie gestil....miskien het iemand se stil trane oor iets opgedroog.....gelukkig was daar twee van Zyltjies om die drie maande om te blaas.....ek wonder of die ouens ooit agtergekom het watter blaser het wanneer geblaas. niemand het ooit dankie gesê nie, want mens praat nie oor donker tyd se eensaamheid in die dag lig nie.....die tweeling se regulation band was die eiendom van D-Eskadron se nag lewe en wie sê dan dankie vir dit wat aan almal behoort . . . . Na die weermag het ek altyd ‘n fluit gehad maar nie gespeel nie.

Die laaste vyf jaar het ek so hier en daar gespeel maar het dit nooit ontwikkel soos Thys nie. Ek gooi maar eerder banjo en kitaar. Weet jy . .  ek het my fluit spelery eintlik verwaarloos. Ek sal maar weer die fluit optel en myself begin vermaak. Ek het ‘n baie sleg gewoonte om te veel goed tegelyk te wil leer. Bv. Ek oefen konsertina, boere konsertina, knoppies akkordion, trekklavier, kitaar, banjo, mondfluit, pennywhistle, bas kitaar en soms klawerbord. Verstaan jy my probleem. Hehehe (of liewer my siekte en uit almal kry ek ‘n paar wysies)…..het op skool sax ook probeer..verbeel jou.".  --Johan van Zyl

Luister hier na Johan se mondflutjie liedjies.