Wat is die beste Mondfluitjie vir beginners?

Vir my is hierdie vraag baie maklik; 'n goedkoop een'. Selfs goedkoop mondfluitjies kompeteer goed met die duur modelle. As jy net eers begin speel, dan wil jy nie te veel betaal net vir die ''probeer slag'' nie. Wanneer  jy beter speel kan jy die duur modelle probeer. En in elk geval, party van die sogenaamde goedkoop mondfluitjies word in dieselfde fabrieke en op dieselfde masjiene en met dieselfde materiaal gemaak. Selfs vakmanskap geld nie meer as gevolg van outomatisering. En nie baie mondfluitjie spelers sal 'n goedkoop mondfluitjie kan uitken tussen ander fluite wanneer dit gespeel word deur 'n goeie speler nie. Dit beklemtoon die feit dat die tiepe of kwaliteit mondfluitjie wat jy speel nie van jou skielik of wonderbaarlik 'n beter speler maak nie, slegs gereelde oefening, ondervinding en kennis van jou instrument.
As jy gelukkig is en jy kry verkoops personeel by 'n musiek winkel wat darm ietsie weet van mondfluitjies kan hulle jou uithelp met iets wat goed klink maar nog steeds goedkoop is. (Onthou, vir gesondheids redes moet jy nie die mondfluitjie in jou mond toets nie, hulle het 'n spesiale blaasbalkie daarvoor. As hulle nie het nie dan beter jy die mondfluitjie goed skoonmaak voordat jy daarop blaas - dis soos om iemand anders se tandeborsel te gebruik)  

Watter maak en model? Daar is heelwat informasie hieroor op die internet . . . dit lyk of die 'Hohner Blues Harp' en veral die 'Special 20' hoog bo aan die lys vir spelers van reg oor die wêreld is. . . maar dit kom met 'n heftige prys. As geld nie 'n probleem is nie, gaan besoek wêreld bekende spelers se webwerwe om te sien wat hulle gebruik en hou asseblief ingedagte dat baie van hulle geëndosseerde mondfluitjies bevorder.

My eerste mondfluitjie het ek destyds (+/-30 jaar terug) daar by 'n musiek winkel naby Bellville stasie vir R30 gekoop . Dis was 'n Hohner Blues en alhoewel hy al 'n paar keer ingestel en herstel is, speel ek nog steeds op hom. 'n Paar jaar terug koop ek 'n stel Jambone Blues (al 12 sleutels) vir £45, ek was eintlik net agter die leer tassie waarin dit gekom het, maar het verlief geraak op die skerp klank wat dit maak en speel nog elke dag daarmee. Die klank snitte onder aan die mondfluitjie Tabs is met hulle gemaak.

Dit geld ook vir die kromatiese mondfluitjies wat ek deur die jare aangekoop het, die duur mondfluitjies lê weggepak in 'n laai, ek speel meestal met die goedkoop Hohner Chrometta of die Swan kleploos 10 gaatjie ''1040'' mondfluitjies, die gaatjies is groot vir vinnige in en uitaseming vir boeremusiek en die kleppe steek nie so gou vas soos die ander fluite nie, die Swan 10 gaatjie het absoluut geen kleppe nie, dis 'n optel en speel fluit en hy is spot goedkoop.

In elk geval, my advies is: Begin goedkoop, leer eers die mondfluitjie ken, en gradeer dan opwaards na mondfluitjies waarmee die 'groot-kannone' speel of waarmee jy gemaklik voel.